top of page

GEHEIM VAN DIE FLAMINKE

Uitmelkbos

Hartenbos in die Kersvakansie het my mond laat oophang: die woonwadorpe soos legkaarte;   die gesellige kuiery in die strate van die tradisionele “Kardoodorp”; die geur van tjops en wors op die rooster;  duisendes van alle ouderdomme wat in hul bonte stranddrag in die strate dwaal en op kraampies toesak; die see van lywe in die branders…

 ‘n Boere-enklave, noem party hietrdie vakansiedorp aan die Tuinroete by Mosselbaai ietwat uit die hoogte. ‘n Heerlike, informele  vakansiedorp waarin ontspanning hoogty vier in die somerseisoen – so lyk die lewendige dorp wat rondom die kern van ‘n rustige ATKV-oord opgeskiet het, eerder vir hierdie vlugtige besoeker.

 In elk geval, Hartenbos besit klaarblyklik ‘n onoortreflike trekkrag wat Desember op Desember skouspelagtig ge-aktiveer word. Soos ‘n reuse-magneet trek hy uit elke hoek van die land die getroue Hartenbossers na die Suid-Kaap  Sommer baie kom uitGauteng, Noordwes, die Vrystaat, ens. Hulle kom slaan tent op, haal die hortjies van vakansiehuise af, of keer terug na rondawels en woonstelle waarvoor hulle al jare die deposito uithaal nog voordat hulle huiswaarts keer vir hul gewone roetinebestaan die res van die jaar.

 Hartenbossers, ek verstaan nogal julle passie vir julle plek, veral ná salige ure op die stoep van ‘n mooi vakansiehuis hoog teen Loerielaan met skilderagtige uitsigte op die riviermond. Die sonsonderganger en voëllewe is hemels. Dankie, Cules en Dalene Malan van Faerie Glen, Pretoria, vir die Van Deventer-ontdekking.  

 Juis van Cules en Dalene se stoep doen ek en Tokkie een oggend ‘n spesiale Hartenbos-ontdekking. Wonder hoeveel van die geswore Hartenbos-tradisionaliste ken daardie geheim!

 Die geheim van die flaminke.

 Ek en Tokkie gewaar hulle skuins onderkant ons teenaan die eilandjie terwyl die ander huisgenote nog slaap. Die flaminke vlieg sierlik weg voordat enigiemand anders verrys.  Ons deel Cules-hulle mee hoe prentjiemooi die vlug van die flaminke vir ons was … en bemerk dadelik ‘n vreemderige reaksie. Opgewondenheid? Bepaald. Ook teleurstelling en ‘n tikkie jaloesie.  Maar voeg skeptisisme by.

 Flaminke? Is julle seker dit was flaminke?  

 Flaminke inderdaad. ‘n Mooi swerm.

 Foto’s?  

 Nee, my kamera was in die slaapkamer.

 O.

 Gelukkig keer “ons”: flaminke die aand terug, en die volgende dag en die dag daarna.  Cules-hulle sien die flaminke die eerste keer in die tien jaar dat hulle hier op Hartenos kom uitspan.  Die bure kiek ewe geesdriftig van hul braaistoep af – vir hulle is dit ‘n eerste waarneming in 15 jaar.

 Met hierdie kennis tot my beskikking begin ek toe ook links en regs foto’s neem. ‘n Mens moet darem bewapen wees as ‘n Hartenbosser perdalks die “dom inkommer” se waarnemings wil bevraagteken.

 Maar waar daardie besoekers vandaan kom? Moet dit nie vir my vra nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page