top of page
  • Uitmelkbos

GEGROET UIT TARLEHOET!

Ex Africa semper aliquid novi. Nie net die vasteland Afrika nie, maar ook kleiner brokkies daarvan lewer altyd iets nuut op. Oor Sabiepark se eerstes het ek al heelwat uitgewei, in hierdie kolomme en ook twee bosboeke oor hierdie hartsplek van my.

 Op Vrydagaand 14 Junie, ons eerste aand hier, is ‘n gawe addendum tot Buurman van die Wildtuin en Duisend Dae van die Sabie gevoeg.

 Eers was die eerste nagapies net ná skemer kordaat in die pendoring voor die stoep. Gewoonlik is hulle ná ‘n lang afwesigheid taamlik sku. Kom gewoonlik eers heelwat later, dan ook onseker en ietwat onrustig. Soms laat wag hulle ons ‘n aand of twee.

Kort daarna hoor ons ‘n snork by die watergatjie. ‘n Klein sebatroppie staan nader vir ‘n sluk of ses van die pas ingetapte vars verfrissing. Twee kleintjies drink seker die eerste keer in hull ewe uit Tarlehoet se dam. Dit het nog nie tevore sommer die eerste aand al gebeur nie.

Skaars ‘n halfuur later gly die eerste bosnagaap teen die maroela se stam af. Toe ‘n tweede. Nommer een spring op die swembad se rand en les sy dors uit die dammetjie vuil reënwater wat in die swembdseil gevorm het.

Nog ‘n eerste. By die hek is ons ‘n waarskuwing in die hand gestop teen die bobbejane wat die park op die oomblik op horings neem. Natuurlik is bobbejane nie ‘n nuwe bedreiging vir Sabieparkers nie. Maar ‘n skriftelike waarskuwing by die hek – dié het ek in 15 jaar nog nie voorheen gekry nie.

Les bes, het ek na die lang rit van OR Tambo af (vyf uur se ry) met ‘n taamlike stram heup by Tarlehoet afgeklim. By my eerste vuurtjie van die winter van 2013 het ek my tjoppie leunend op my kierie met die handvatsel van vlakvarkhoring op die skole gegooi. Ook die  eerste keer, helaas.

Ek het boontoe getuur, half in die verwagting dat die helder sterrehemel ook die een of ander nuwe voet moet voorsit. Dit was egter presies soos ek dit onthou – so naby dat jy, soos Pieter Pieterse gesê het, voel jy kan jou hand uitsteek en vir jou ‘n paar pluk.

NASKRIF: Sabiepark is sonnig en sielsalig, soos altyd. Die sukkelseine is steeds met ons, soos altyd. Geduld, geduld, liewe vriende met die seldsame stilswye uit hierdie spraaksame oord – of geniet dit natuurlik! 

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Yorumlar


bottom of page