Twee eetlepels caster-olie vir Julius Malema, twee vir Leonard Chuene, twee vir Winnie Mandela – dat hulle op die natuurlike manier van die rassegif in hul lywe ontslae kan raak.
Hoe treurig dat die soeklig in die jammerlike Semenya-sage nou verskuif het van die lompe hantering deur die I.A.A.F. tot die kinderagtige reaksie van Suid-Afrikaanse atletiekbase en politici!
Op beskamende wyse is die mense hierbo, en ander kamerade, besig om hulleself in hul dwarse dwaasheid te oortref, en om vlytig die beeld te versterk van Suid-Afrika as ‘n agterlike piesangrepubliek.
Boonop – en dis dalk die ergste – is hulle so seker soos daglig die graf aan’t grawe vir Caster Semenya se internasionale atletiekloopbaan as hulle nie gou tot verstandiger insigte kom nie.
‘n Mens is innig jammer vir Semenya wat die internasionale storm nie gesoek het nie en wat werklik tot in die grond verneder is. Dié jong atleet uit die stofstrate van Limpopo se “deep platteland” wil net hardloop. Jy gun dié talentvolle Tukkie ook om net dit te doen: te hardloop, te hardloop en te hardloop; nog baie linte te breek, vele rekords te laat tuimel en ryk te word. Sonder omstredenheid.
Maar vir laasgenoemde geld ‘n voorwaarde – respek vir die een oorheersende kernelement van alle mededingende sport, van skolevlak tot in die internasionale arena.
Wat is dit? Billike mededinging deur gelykes, natuurlik.
Hardebaarde van 20/21 kan nie op skolevlak toegelaat word om melkbaarde van 17/18 se moed en ledemate te breek nie. In rugby, atletiek, swem, fietsry en ‘n rits ander sportsoorte moet op elke vlak daarteen gewaak word dat kansvatters hul kragte met allerlei doepas oppomp. In vrouesport bestaan die geslagselement wat billike mededinging bedreig.
Hoeveel oortreders is nie al deur opkikkertoetse uitgevang nie? Hoeveel is nie al soos ons eie draaibalbouler Johan Botha deur skeidsregters met valkoë aangekla dat hulle die reëls (en hul arms!) buig nie? Hoeveel is nie al aan geslagstoetse onderwerp as twyfel ontstaan of opgewerp word nie?
Die ongelukkige waarheid oor Semenya is: sulke twyfel bestaan inderdaad. Dit gaan nie .. poef .. in die blou hemel verdwyn voor aktiviste se “hou-jul-pote-tuis”-retoriek nie. Al raad is dat met bekwame spoed opgetree word om vrae en vrese te besweer.
Die wetenskaplikes met hul proefbuise en dinge moet dadelik ingeroep word. Natuurlik hoop ‘n mens dat Suid-Afrika dan op grond van die resultate daarna van pure lekkerkry vir die wêreld sal kan tong uitsteek. Vermy kan niemand dit egter vermy nie. Die wêreld wil weet. Die wêreld moet weet. Anders gaan die wêreld Semenya verwerp.
Daarom moet die Malemas, Chuenes en Mandelas gerus maar ophou om die I.A.A.F en gesiglose Suid-Afrikaanse “rassiste” te verwyt en moet hulle, ook ter wille van Semenya en ‘n potensiëel goue loopbaan, maar filosofies aanvaar en daarin berus dat internasionale reëls van billike deelname ook vir Suid-Afrika en sy “kinders” geld. Hoe pynlik ook al vir al die betrokkenes.
Kan hulle regtig so so blindelings domastrant wees dat hulle dié kernwaarheid nie kan of wil raaksien nie?
Comments