top of page
Uitmelkbos

GEDIGTE IN GESPREK

‘n Soektog na verseboeke vir ‘n vriend wat ná ‘n beroerte Afrikaanse

poësie van weleer met behae herontdek, bring my by ‘n verslete ene wat deur die uwe in sy standerd-ses-jaar so met kantaantekeninge in dowwe potlood bekrap is dat jy skaars die gedrukte verse raaksien.

Goeie aarde, dit was dalk ‘n manier om die onderwyser se insigte vir latere referensie te bêre, maar getuig nie juis van respek vir die grotes wie se verse daarin gebloemlees is nie. Wil nie vandag dieselfde fout maak wanneer ek twee prag-gedigte van die moderne era in hierdie ruimte aanbied nie. Kantaantekeninge is hier immers oorbodig.

Ek herinner net dat amper ‘n maand gelede, rondom die Pase, hier ‘n vers van Johann de Lange was met die titel “Google Golgota”. Ek het gedink dis buitengewoon byderwets en kreatief.

‘n Leidraad in Johann se vers is die vermelding van “ ‘n sms van Joan uit Jerusalem”. Daardie Joan is – natuurlik! – Joan Hambidge, wat (soos Paulus) lief is om te reis en te skryf,en te reis en te skryf.

Saterdag loop ek haar raak by ‘n aangename geleentheid van Protea Boekhuis op Phildalphia – ai, daai heerlike skaap en vark op die spit! Die afloop van ons gesprek is dat sy vir my haar gedig “Via Dolorosa” stuur, wat die oorsprong van “Google Golgota” is.

Met dankbaarheid vir haar geredelike instemming – omdat die twee gedigte “met mekaar praat” – plaas ek nou vandag hier, aan die vooraand van Hemelvaart, ook haar gedig “Via dolorosa”:

VIA DOLOROSA

Die lydensweg

stap ek moeisaam

met my kamera op my rug;

verloor my groep

tussen stasie vyf en ses.

Ek dink my in

hoe U hierdie weg nou

sou sien:

“I got stoned in Jerusalem”

blaker ‘n T-hemp en verderaan

staan twee Jode en korswel

oor ‘n sokkertelling ‘n dag terug.

Veronika sou waarskynlik vandag

‘n wet-wipe aanbied en ek meen

iemand sou dink aan ‘n Red Bull

of dalk iets sterkers vir dié pad.

Iemand sou meen U doringkroon

is cool soos ‘n tatoe.

‘n Nonnetjie stap uiloog verby,

terwyl ‘n Ortodokse Jood selfoon

in die linkerhand

en sigaret in sy skewebek,

bewend boekevat.

En ek?

Ek kyk uit oor Jerusalem

op ‘n Sondag vér van huis en haard,

sluit my oë, tel ‘n klip op

digby Golgotha

en wens

ek kon hierdie steurnisse

uitwis soos ‘n raam

op my digitaal.

– Joan Hambidge

Lees en geniet, in samehang met die gedig waar uit syne ontspring het, gerus ook weer Johann de Lange se GOOGLE GOLGOTA:

Sondagmiddag in Kaapstad en ek kry ‘n sms van Joan uit Jerusalem: Ek loop nou die via dolorosa. Was vandag U sterfdag sou ons U volg

op Twitter, mekaar sms of vir laas U profiel op Facebook besoek, spyt ons het nie eerder gevra dat U ons byvoeg as vriend. Elke blogger

agter sy rekenaar besig met sy Golgota-scoop. Die pers sal kameras en mikrofone in U gesig druk vir ‘n sound bite, of advies oor global warming, duisende

websites opgaan in U Naam, promosies, boek- en filmregte. Advertensieflitse: Hoe kry ons daardie kleed weer witter as sneeu? Regoor die aarde sal kort oorsigte oor U lewe uitgesaai word,

onderbreek met terugflitse na die smal stegies, die keistene waaroor U moeisaam vorder, nuushelikopters oorhoofs. Joan, stuur my asb ‘n 8 megapixel foto, ‘n poskaart of brief in Sy handskrif,

of ‘n repie van Sy kleed, ek begeer iets om op eBay te adverteer.

– Johann de Lange

(HvD)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page