top of page
  • Uitmelkbos

GEARENDHEID VAN ‘N OORPISTER


‘n Knaap wat geen uitblinker in die katkisasieklas was nie, kry een les die taak om ‘n stukke voor te lees waarin die woord ”sinagoge” voorkom. Die lesery verloop maar sukkelend. Toe hy by die vangwoord kom, steek die leser soos ‘n steeks perd vas.

“Siene-siene-siene…” waag hy gemarteld. Maar sy selfvertroue bou stadigaan op. “Siena-gogge,” spoeg hy oplaas die vreemde woord uit.

Dominee was ‘n platjie. “Nou watse gogga is ‘n siene-gogga, Kareltjie?”

Kareltjie skroef sy voorkop in ‘n diepdink-frons.

Toe, half-vraend: “Seker iets in die gearendheid van ‘n oogpister, dominee?”

Enkele ure nadat ek hierdie storie uit die mond van my vriend Cas Jacobs, boorling van Carnarvon, vir ‘n groep Melkbossers om ‘n vleisbraaivuur by Rondeberg, Clanwilliam, oorvertel het, vlieg ‘n besie (soos hierbo) by my oor in. Pylreguit of hy deur radar gelei was.

Nou kyk, ‘n besie in ‘n man se oor is geen beuselagtigheid nie. Dit klink of die ding vlerke het soos ‘n vrugtevlermuis en hy wikkel hulle dat dit dreun soos ‘n helikopter wat in ‘n spelonk staan en opwarm.

Ek klap, uiter ‘n noodkreet en swaai my kop wild om van die bose indringer ontslae te raak.

“Seker iets in die gearendheid van ‘n oorpister,” lewer een ou onsimpatiek kommentaar.

“n Oorpister op soek na ‘n toilet,”grap ‘n ander met ‘n verwronge humorsin.

Intussen hardloop die vrou van die huis vir een van daardie soort knypinstrumentjies waarmee vroue ongewenste hare aandurf. Sy knyp-knyp in die donker tonnel van my oor, maar die ou “zirrr… “ net meer verbete.

My vrou, Tokkie, het intussen omgevloog na ons huisie toe en kom aangedraf met ‘n bottel kookolie en ‘n lepel. Die kookolie laat ten minste die gefladder van die vlerke bedaar, het sy iewers gehoor.

Daardie raad is genadiglik in die kol.

“Zirr, zirr, zirr,” raas die besie al hoe sagter. Toe raak dit stil.

Die volgende oomblik staan sy met die sondaar in die hand. In ‘n poging om verdrinking in ‘n lepel kookolie te voorkom, het hy ligwaarts gebeur om asem te kry. Toe kry sy hom beet. Verby met Doris Day.

Ek kon my vrou soen toe sy die donker klein lyfie triomfantlik vir die belangstellendes wys.

Die beleg van my oor was oor … maar oor een ding kom ek nie: my verrassing oor die afwesigheid van twee reusevlerke. Ek sweer: terwyl die besie binne was, was sy vlerke monsteragtig!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page