top of page
Uitmelkbos

“GATJAPONNERS” VAN DIE SEE

Dis die beroemde Boulders-pikkewyne, maar, geheimpie-geheimpie, jy sien die kolonie swart-en-wit voëls die beste op die buurbaaitjie langsaan, Foxystrand, waar jy binne ‘n paar meter van die regop gestaltetjies met hul eienaardige wiegel-waggelstappie kom.

Ons was gelukkig om ‘n fris lot van die kolonie van sowat 3 000 op die strand te kry; ook heelwat aktwiteit te beleef. Voorwaarts … mars! Induik vir ‘n vinnge swem. Daardie klas dinge. Die liefde het by verskeie pare nogal geblom. Hulle lyk sielsalig gelukkig as hulle mekaar met hul skerp bekkies verken. “Bliss”, noem die Engelse daardie uitdrukking op die pikkewyn-gelate.

Simonstad se nommer-een-toeristrekpleister is gewis sy pikkewyne. Op voortreflike plankiespaaie tussen Boulders en Foxy kan jy rustig drentel, op bankies gaan sit met jou koffiefles en foto’s neem na hartelus. Een verdwaalde ou het hom skielik saam met ons op die paadjie bevind. Sy onbehae met ons teenwoordigheid was uit sy haastige wegskarrel so duidelik soos daglig.

Sanparke het hier ‘n ontwikkeling tot stand gebring waarop ‘n mens trots kan wees. Ek en Tokkie, wat jare laas daar was, was verstom. Vir ‘n slag aangenaam verstom, nie teleurgesteld en ontnugter nie.

Die brosjure’tjie wat jy by die ingang kry, maak daarop aanspraak dat Boulders se pikkewynkolonie “wêreldberoemd” is. Dalk is hulle. Hulle verdien om te wees. Die pikkewyn is immers ‘n bedreigde spesie.

Die baaitjies is knus en heerlik windbeskut. Al is aan die een kant huise en geboue beleef jy aan die kuskant die ongerepte natuur van Valsbaai.

Onthou om jou kamera met jou beste lense en jou Wildkaart te vat. Laasgenoemde verleen gratis toegang. Soos in daardie Checkersadvertensie van die meisietjie wat saam met haar ma gaan inkopies doen het, spaar jy baie!

Naskrif: Waar kom Pik Botha se naam vandaan? Een storie is dat hy Pikkewyn Botha geword het toe hy in die 50’s Tukkies se intervarsitydirigent was. ‘n Ou met ‘n “gatjapon” lyk nogal na ‘n pikkewyn …. of is dit nou andersom?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page