top of page

GAT-VOL VIR HOENDER!

Uitmelkbos

‘n Buitengewone hoender-ervaring by ‘n straatmark in Taipei word opgeroep deur ‘n berig in verlede Sondag se Rapport oor Madge Bester (46) van Bloemfontein, op 63 cm eens bekend as die kortste mens op die aarde.

Madge is in haar eie woorde net “‘n poep en ‘n baksteen” hoog. In 1986 is sy in die Guinness Book of Records as “kortste mens” vermeld. Hierdie status het gesorg vir KORT-stondige roem, wat ‘n besoek aan die Republiek van China (Taiwan) ingesluit het. Busvragte Chinese het na die kort mensie kom kyk.

Vir Chinese kos het sy egter nooit ‘n smaak ontwikkel nie. Na ‘n jaar was sy dik vir die alewige hoender. Sy was “gatvol vir hoender”, het sy Rapport meegedeel.

Moet erken, Chinese cusine het my op ‘n besoek in die jare 80 aan Chiang Kai-Shek se wegbreek-staatjie ook nooit juis geval nie. Dikwels was hoender my redding as die ander kosse darem te “eksoties” lyk en ruik (soos “preserved egg”!)

Iemand het mos een keer opgemerk die Chinese eet enigiets wat bek of pote het – nie net nie die tafel en stoele nie! As dit ‘n oordrywing is, is dit nie ‘n vreeslike ene nie.

Een aand gaan eet ek en my gidsie by een van daardie florerende straatmarkte wat na donker soos plakkerskampe in Taipei se strate opskiet. Dis ‘n geroesemoes van klanke, kleure, reuke en smake – en al wat ek sien wat darem met ‘n Vrystaatse spysverteringstelsel behoort te akkordeer, is iets wat lyk soos ‘n hoendersosatie.

Die gidsie reageer afkeurend.

“No,” kondig hy aan, “you won’t like.”

“Hoekom nie? Niks fout met hoender nie.”

“No.” Hy skud steeds heftig sy kop – “not light for you.”

Ek herhaal my siening van die saak.

Toe blaker hy die rede vir sy weerstand uit: “It’s the chicken’s behinds.”

Bid jou dit aan – hoender-anussies op ‘n stokkie, en die vleiskossies mooitjies ingeryg deur gaatjies wat deur die natuur self voorsien is!

Genoeg om ‘n mens letterlik en figuurlik GAT-vol vir hoender te maak!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page