top of page
  • Uitmelkbos

GASVRYHEID TEEN ‘N PRYS

Ek wil nie graag dierbare, goeie mense in die gesig vat of seermaak nie, maar ek het nog nooit trek gehad in onthale met kontant-kroeë nie. Miskien is ek net ouderwets, maar ek glo as jy iemand nooi, is jy verantwoordelik vir die te ete en te drinke. Jy laat nie jou gaste opdok nie.

As jou begroting onder druk is, nooi jy eenvoudig minder mense of bied minder aan. Ek bedien liewer “bokswyn” of tuisgemaakte limonade as om gaste ten duurste te laat betaal vir hul whisky, brandewyn of jenewer.

Uitnodings met die mededeling in ‘n hoekie onder op die kaartjie of briefie dat ‘n kontantkroeg beskikbaar is, is redelik algemeen deesdae, ek weet. Nou-ja, dis moeilike tye, maar as ek enige sê het, sal my advies wees: liewer nie. Jy plaas jou gaste net onder onnodige druk.

Veral by bruilofte skep só ‘n “drink-en-betaal”-stelsel soms pynlike ongemak. Een gas het sy beursie vergeet en is dan van ander afhanklik. ‘n Ander is die gulheid vanself en koop vir almal drankies. Maar dan is dit eintlik sy broodgeld wat in sy vriende se kele verdwyn.

Die vreemdste van vreemde uitnodigings het ek pas ontvang, sal liewer nie sê van wie of wat nie, maar kan darem verklap dis geen armlastige instelling wat my nooi nie.

‘n Vriendelike keuse word tussen twee onthale gebied: ‘n middagete in ‘n spoghotel in Sandton of ‘n skemeronthaal in een van Kaapstad se deftigste vyf-ster- adresse.

Voor ‘n sekere datum moet jy “registreer” vir watter een jy wil bywoon (of dalk albei ook, as jy wil). Maar dan die vangplek: vir

die middagete is die “registrasiegeld” $35 en vir die onthaal $20.

Dis gasvryheid teen ‘n prys, boeta (betaal nou en hou die wisselkoers dop!) Dan dink die gasheer blykbaar die eer om genooi te word, is só groot dat die gaste oor hul voete moet val om te “registreer”.

Wel, wat my en my huis betref, is die antwoord ‘n onmiddellike en abrupte “nee dankie”. Ek het só vinnig laat weet dat die gasheer besorgd (?) verneem het of my gesondheid na wense is!

As ek verkeerd of ‘n vreemdeling in Jerusalem (of sommer net suinig) is, is ek jammer, maar dis nou maar een maal hoe ek oor uitnodigings voel en basta.

Dis hoeka lekker kaalvoet hier by my eie huis.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page