Toe ons in 1992 in Bloemfontein weg is, het Johan van Wyk, karnallieskrywer van die rubriek Stop van Myne, hom oor Tokkie as gasvrou soos volg uitgelaat: “Ek ween by voorbaat oor Tokkie se lekker kos. Net ‘n Van Wyk (sy was Tokkie van Wyk) kan só kos maak vir ‘n Van Wyk.”
Hy en ander redaksielede van Die Volksblad (nou net Volksblad sonder die Die) sou onthou hoe sy lag-lag die hele redaksie plus gades uit haar kombuis in Genl. Van Schoorstraat 1 kos gegee het, terwyl die uwe draf met die drankies. ‘n Honderd gaste het nie vir haar (plus die getroue, skraal Bulfonteinertjie Miriam) laat skrik nie.
Dis egter nie oor TvD die gasvrou dat ek vandag skryf nie, dis oor TvD die gas-vrou.
Daardie koppelteken maak ‘n wêreld se verskil. By laasgenoemde gaan dit nie om potte op die stoof en goeters in die oond vir honger gaste nie; dit gaan om gas as kragbron. Sissende gas in swaar silinders. In Sabiepark het ons drie yslike menere – 48 kilogram elk. Hulle is gekoppel aan ‘n vrieskas, ‘n yskas, ‘n tweeplaat-stofie en twee warmwatertoestelle (outydse “Junkers”).
Nou-ja, die vakansie moes die gas-vrou eers bontstaan met die vrieskas wat skielik alleraakligs aan die rook gaan. Hy gooi sulke swart roet bolle die vloer vol. Tokkie skrop en borsel, maar uiteindelik moet hulp wel uit Hazyview ontbied word. Net daarna kom die yskas aan die beurt. Hy blaas sulke digte rookwolke en stink ons uit die huis uit.
Om elke keer ‘n tegnikus 40 km ver te laat kom, kos ‘n klein fortuin. Ek gryp die handboek (Ïf you are in doubt consult the manual!) Sy is plat op die naat van haar rug en begin volgens die boek se voorskrifte plate afskroef, konneksies wegbuig en eindelik die hele skoorsteen ontkoppel.
Dis ‘n vreemde en gevaarlike ontdekkingsreis. “Bring die brandblussers,” gebied sy, en ek hôl gehoorsaam om die opdrag uit te voer. Gelukkig raak die brandblussers nie nodig nie. Tokkie werk die dik aangepakte roet se gal vir ‘n vale, en die yskas reageer bedagsaam. Toe my vrou die vuurhoutjie trek terwyl die uwe tandeknersend die regte knoppie met sy toon wegtrap, vat die yskas met ‘n siddering. Hy glip gemaklik in die koudmaak-funksie terug. Rook, roet en reuk bly weg. Bevryding!
‘n Derde gas-toets lê voor. Om redes wat nie hier relevant nie, moet ons ‘n leë silinder op eie stoom by die kiosk besorg vir vervanging met ‘n volle. Ek is oortuig die Honda se kattebak het oorgenoeg spasie vir die takie. Dit blyk egter die silinder is te vet om onder die dwarsbalk vir die bagasiebak se beskermende seilskerm in te pas.
Nou kan die luikdeur nie toe nie. Ook nie die boonste agterruit wat los van die deurgedeelte funksioneer nie (slegs ou-CR-V-eienaars sal presies begryp). Al genade is dat ons met ‘n oop ruit en oop deur moet ry. Twee komplikasies: die ruit kan maklik breek as ons so op die onegalige Sabieparkpaaie op en af kiosk toe wip-wip, en die silinder kan hard met die grond kennis maak.
Dis waar TvD werklik haar staal as gas-vrou toon. Sy aanvaar die uitdaging, klim rats bo-oor die silinder en gaan sit op hom soos iemand wat ‘n perd bloots ry. Met die een hand gryp sy die ruit en met die ander die deur. Daar trek ons al stampende oor die hobbels. Die derde keer toe haar kop in die beperkte ruimte onsag ‘n balk of ‘n ding tref en sy die derde kragwoord deur dun lippe pers, trap ek rem.
“Wat maak jy nou?”
“Gaan jou afneem.”
Die resultaat is die foto hierbo. Toe ek dit vir my vriend Kapous Mouton wys, betig hy my dadelik: “Moet dit nie weer aan Tokkie doen nie. My bakkie is altyd beskikbaar.”
Dankie, Kapous, maar eintlik is dit ook maar ‘n ridderlikheid wat agter die deur verskuil is hierdie. Kapous skroom nie om Leonora ‘n VOL silinder te laat help dra nie. Hy koop graag sy gas teen die laagste moontlike prys en vermy afleweringskoste as dit hoegenaamd kan.
Die twee is ervare en bekwame gas-draers. Een keer loop iets egter verkeerd. Kapous se ent glip uit sy hande. Met die val ruk die ander ent Leonora se skouer uit potjie en wat nog. Die resultaat is ‘n stuk ortopediese chirurgie, ten duurste natuurlik soos ortopediese chirurgie neig om te wees. En herstel kom nie oornag nie.
“Maar nou-ja,”sê ek vir Tokkie, “nou het die Moutons se mediese fonds ten minste Kapous se gas gesubsidieer!”
Comments