My groot nuwejaarsvoorneme is dat ek my vanjaar nie gaan steur aan resensies wat my irriteer of verveel nie. Ignoreer hulle net.
Daarom gaan ek net sê dat Chanette Paul se Offerlam sekerlik ’n behoorlike resensie in Rapport Boeke verdien, en nie die halfgebakte verslaggie wat in die naweek verskyn het nie. Is dit te veel gevra, in hierdie tye waarin ’n Afrikaanse skrywer kan hoop op twee besprekings van sy/haar boek, om van ’n resensent wat tot ’n negatiewe slotsom oor ’n boek kom, te verwag om dit behoorlik te motiveer? Chanette Paul het nie hierdie hovaardige oppervlakkigheid verdien nie.
Riëtte Grobler vaar heelwat beter met ’n essensieel negatiewe resensie van Kristel Loots se ’n Ander vrou se rok. Toegegee, dit is ’n heelwat yler boek as Offerlam, met aansienlik nederiger ideale. Grobler probeer om die roman se tekortkominge te bespreek sonder om bitsig of gemeen te wees, en kry dit reg ook. Kristel Loots sal presies weet wat sy volgende keer moet vermy.
Joan Hambidge se bespreking van die vertalings van Wilhelm Knobel se gedigte, Die ongewapende man op 80 val ’n bietjie buite die raamwerk van hierdie rubriek, maar dit het my nogtans laat wonder of mens nog van Knobel se bundels in die hande kan kry? Ek’s nou goed nuuskierig.
Comments