top of page
  • Uitmelkbos

GAAN NIE VERKOOP NIE!

Oom Barnie Human van Bloemfontein kon altyd met smaak vertel van die ou wat so ‘n ekspert was op die smaak van drank. Gee vir hom enige eksotiese ding om te proe, en die ding se naam rol dadelik van sy tong.

Moeg om elke keer getroef te word, gee hulle hom ten einde laaste ‘n glas water. Hy proe … trek ‘n vies gesig … proe weer. “Nee, julle het my,” kom sy antwoord toe. “Ek het nie n idee wat dit kan wees nie. Maar een ding kan ek vir julle sê: Dit gaan nie verkoop nie!”

Vra julle my my oordeel oor die nuwe 50/50 wat gisteraand met groot fanfare op TV2 geloods is, moet ek ongelukkig dieselfde sê: “Dit gaan nie verkoop nie.” Ai, as ‘n mens darem dink aan hoe natuurliefhebbers voor die ou 50/50 vasgenael gesit het. Maar telkens was daar die een of ander wysneus wat beter geweet het. Gesigte het gekom en gegaan, en program-inhoud is gedurig “vernuwe”

Met elke modernisering is die essensie vermurwe. Mettertyd het 50/50 al hoe minder vir hierdie kyker noodsaaklike kykstof geword.

Die doodskoot was die breekspul met Johan Botha se span, wat – ironies genoeg – nadat hy al onder die valbyl gekom het, nog pryse ingeryg het. Eers het ons gehoor die durabele Botha het opdrag gekry om “weer te gaan dink” oor die program. Daarna is hy, klaarblyklik gesteurd, oor Kyknet toe. Sy span is sak en pak agterna.

Nou sit ons met so ‘n byderwetse glans-en-glinster-konkoksie. In die liggewig- aanbiedersgeledere is, behoede dit, onder andere selfs ‘n Amerikaner, wat klaarblyklik ‘n masjien-verknogte is. Ken daardie jappie die reuk van die veld?

Toe ‘n sesjarige kleinkind (wat spesiaal wakker gebly het) vra: “Maar, oupa, hoekom wys hulle dan motors op ‘n diereprogram?” was die koeël klaar deur die kerk. Hy en hope ander jong kykers sou liewer dadelik wou terug “dierekanaal” toe. Nie lank daarna nie, was ek ook aan die gaap.

Een klik en die skerm was donker.

Dalk het ek die beste deel van die program gemis. Ek wonder egter. Het hulle werklik iets nuuts oor die myne in die wynland gehad?

Nee wat, die groenes het oorgevat met hul eie defenisie van ‘n natuur- of omgewingsprogram wat klaarblyklik so wyd is soos die Heer se genade. My hart is nie geraak nie. As ek ‘n projeksie moet maak oor wat in die toekoms wag, is dit met wanhoop.

Pleks dat hulle die naam 50/50 ook maar argief toe stuur. Ek assosieer dit met iets van ‘n ander stoffasie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page