Die Leon van Nierops, Barry Ronges en Paul Boekkoois sal weet of ek mistas of nie, maar so in my lekehoekie wonder ek of al ooit twee beter rolprente saam op die kringloop was as Martin Scorsese se magiese Hugo en die meesleurende The Descendants met ‘n manjifieke George Clooney in die hoofrol.
Mense soos ek en Tokkie wat selde in ‘n fliek kom, het gewis nog nooit twee groter meesterstukke binne 48 uur op die groot skerm gesien as hierdie twee nie. Nou wag Iron Lady en We Need To Talk About Kevin nog op ons, pink T. ‘n traantjie weg omdat sy Girl With The Dragon Tattoo misgeloop het, en word We Bought A Zoo deur vriende met betroubare oordeel sterk aanbeveel.
Waar moet ‘n mens die tyd kry vir al die gefliekery as Hollywood sulke voortreflike produkte uittower?
Sien intussen die Afrikaanse Semi-soet vaar ook heel skaflik met die stertoekennings van die resensente – beter as Liefling in elk geval. Maar laasgenoemde het hierdie ou ‘n groot skrik gegee. By Semi-soet hou hy dus liefs verby.
Hugo het die Van D’s Donderdagmiddag om 17:15 in Bayside, Table View, gesien. Ons was die enigste twee mense in die teater. Kan dus aanspraak maak op die eksklusiwiteit van ‘n private vertoning. Werklik.
By die The Descendants was ons vanoggend (Saterdag) om 11:45 in die Tygervalleisentrum (waaraan die eindelose restourasiewerk genadiglik einde se kant toe begin staan). Dalk was ons 20 mense in die teater. Ek twyfel.
As twee films met ‘n wavrag Oscarbenoemings tussen hulle so min mense lok, sien ek swarigheid vir die silwerdoek-bedryf. Of gaan fliek die jonger garde op ander tye as ons?
By The Descendants was minstens twee van die Gideonsbendetjie chroniese giggelaars. Toegegee, tussen al die patos is genoeg heerlike humor. Maar ‘n aangrypende fliekervaring, met ‘n roerende storie wat ontvou teen die prag-agtergrond van die paradysagtige Hawaii, is deur daardie irritasie nadelig getref.
Hoekom party mense so onbedaarlik giggel telkens wanneer hulle genoop voel om te giggel, slaan hierdie gryse al van toeka af dronk, tensy hul metgeselle hulle dalk sit en kielie. Lyk egter of hierdie hinderlike skeet van ‘n sekere seksie van die ou mensdom aan die toeneem is.
Maar laat ek nie ‘n knorpot wees nie. Dankie, nogmaals dankie, aan diegene wat ons aangeraai het om te gaan kyk. Hugo en The Descendants was albei prima en deur en deur die moeite werd. Hoop die Oscars rol vir hulle in.
Comments