top of page
  • Izak de Vries

Frank en die Lamborghini


Dit is Frank. Kom ons noem hom so, want hy het ’n skerp tong. Kliek op sy foto om dit volgrootte te sien.

Gewoonlik sal ek nie iemand van naby afneem met ’n wyehoeklens nie. Die distorsie laat die gesig vreemd voorkom. Julle sal sien Frank se neus is groter as wat dit moet wees.

Gewoonlik, seg ek. Want die Engelse het ’n spreekwoord: Sometimes you have to be cruel to be kind.

Frank het homself aan my kom opdring daar in Stellenbosch en was al goed aangeklam. Hy wóú dat ek sy foto neem en het my toe aangemoedig om die foto in ons huis te hang, want, sê hy, as die kieme dié lelike gesig sien, sal hulle hardloop en ons sal nooit weer verkoue of griep kry nie.

Frank speel dus die nar. Ek het op daardie stadium nog ’n 24–70 mm-lens op my kamera gehad. Op 70mm is dit ’n baie goeie portretlens. Ek wou net die wyehoeklens opsit toe hy my kom pla. En daar besluit ek toe om Frank wel met die 35mm af te neem en van naby. Dit is wyd genoeg om distorsie te kry, maar op 35mm darem nie so dat ek hom belanglik laat lyk nie.

Frank weet hy is deur die jare getrap. Ek wou dit wys. Ja, ek het hiermee die karikatuur wat hy van homself maak, bevestig, maar dit is die naaste wat ’n foto kan kom aan die woorde wat hy oor homself uiter.

Dan was dit ook korrek dat ek hom afneem met die lens wat ek eintlik vir die Lamborgini uitgehaal het. Ek het toe eers die kamera baie naby sy gesig gehou, die knoppie gedruk en toe die kar afgeneem. (Kliek op die foto om dit groter te maak.)


Dit neem ’n hofnar om soms die groteske wanbalans in ons samelewing uit te lig.

Ek is bly ek kon sy foto neem. Ek gaan dit nie in my huis opplak nie, maar ek sal sy gesig langs die Lambo nog lank onthou.

* * *

As julle ’n briljante reeks wil sien wat mense, ryk en arm, vasvat, gaan kyk na Johan Kotze se Poeple of Stellenbosch en like dit. Julle sal nie spyt wees nie. https://www.facebook.com/PeopleofStellenbosch

* * *

Iets oor Frank se foto.

Ek skiet in RAW en dan ontwikkel ek elke foto. Ek moes die donker kepe in sy gesig uitbring, maar hy het nie soos ’n tamatie gelyk nie. Toe gebruik ek ’n tegniek wat ek soms uithaal as ek ’n baie spesiale foto nodig het.


Ek het eers die foto in kleur ontwikkel (links) tot ek tevrede was dit is die beste wat ek kon doen. Toe het ek dieselfde foto in swart en wit ontwikkel, weer tot ek tevrede was ek kon nie beter nie. En toe voeg ek die twee saam (middel). Ek het Canon Digital Professional se “Compositing tool” gebruik, maar ’n mens sou ook PhotoShop se layers kon gebruik. Ek het eenvoudig die gekleurde foto oor die swart en foto geplak en stelselmatig die swart laat deurskemer tot ek Frank se velkleur weer kon kry soos ek dit wou hê.

* * *

Tegniese detail: Albei foto’s is geneem met Canon 5DmkII en ’n Canon EF16-35mm f/2.8L USM-lens.

Frank se foto: 1/200 f3.5 ISO100 (35mm)

Die Lambo: 1/200 f10 ISO100 (16mm)

1 view

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page