top of page
  • Uitmelkbos

FOP-FLITSBERIG


Die Volksblad se subtafel in 1967. Die uwe is in die hoofsubstoel. Links van hom sit Sarel Venter en Pierre van Manen. Regs van hom is Ollie Olwagen en Piet Theron. Die kerse is weens ‘n Eskom-foutjie. “Laserstraal” het die foto by die vorige blog ter sprake gebring. Dit was ook in In Kamera (Protea, 2003).

Hierdie is die verhaal – vermaaklik (?), pynlik (?) embarrasserend (?), waarskuwend (?) – van ‘n laatnagjol by Die Burger in Kaapstad wat met lang tentakels by Die Volksblad in Bloemfontein konsternasie kom veroorsaak het.

Dit, liewe blog-vriende, is die beloofde anekdote wat die potensiële misbruik van die betroubare ou teleks uitlig, en daarmee, glo ek, ook die potensiële misbruike van verskeie nuwe kommunikasiemiddele met ewe nadelige gevolge.

By Die Burger is naamlik nadat die laaste koerant die betrokke Vrydagnag “bed toe is” ‘n paar biere in die nagkantoor geknak, soos die tradisie was. Een grapjas glip toe weg, en om sy hoofsub ‘n streep te trek, tik hy ‘n kamma-“snap” (sien vorige blog) op ‘n teleksmasjien: “Dr. Ward has died.”

Die dood van dr. Ward sou om verskeie redes nuuswaardig wees. Ons praat nou van 1963 toe die Britse foonsnol Christine Keeler en die rondloper-minister John Profumo se eskapades koerante (en hul lesers) wêreldwyd gefassineer het. Die osteopaat Stephen Ward het midde-in die skandaal ‘n oordosis pille gedrink nadat hy in die Old Bailey verskyn het op aanklag dat hy van inkomste van onsedelikheid geleef het.

Sou hy dit maak of nie om, spreekwoordelik, die aap uit die mou te laat. Vir ‘n ontstellende moment dag die hoofsub hy sal sy bier moet laat warm word terwyl hy die voorblad oormaak met die vars nuus. Toe bars sy kollega uit van die lag. “Lekker gevang heh?”

Wat grapjas-kollega nie besef het nie, is dat sy fop-flitsberig by Die Volksblad in Bloemfontein (wat ‘n middagkoerant was) sou uitslaan. Ramp op ramp.

‘n Minsame kollega (wat nou nog koue rillings kry as jy die naam Ward naby hom noem) stap die oggend van 3 Augustus, soos op Saterdae gebruik was, hier teen 04:00 stoksiel-alleen by die kantoor in om berigte te selekteer en vir persklaarmaking onder sy span subs uit te deel. A, bemerk hy, hier is gelukkig iets vars: Dr. Ward is dood. Voorblad toe!

Die eerste uitgawe verskyn met die Ward-berig. Maar snaaks, so oor die tradisionele bord ham- , tamatie- en kaasroosterbroodjies tussen die uitgawes, begin bedenkinge aan die kollega knaag: Hoekom dan geen opvolgberig nie? Gebruiklik kom na ‘n “snap” , ‘n stroom “leads” met die volle storie, weet selfs hy wat nie gereeld in daardie warmstoel sit nie. Die radio se nuusbulletyns rep ook niks.

Die nuusredakteur word terstond oor die vreemde omstandighede van die ge-isoleerde “snap” ingelig. Dié besluit wyslik om die Londense man in sy woonstel in Knightsbridge, nie ver van Harrods af nie, wakker te bel. Vaak-vaak en vies-vies rapporteer hy na ‘n ruk: Ward is NIE dood nie!

Berge bedek die arme Volksblad! ‘n Vals berig is die wêreld in, en dit nie alte onprominent nie! Vinnig word die Wardberig toe verwyder. In die tweede uitgawe word sy toestand as “stabiel” vermeld. Almal by Die Volksblad loop egter met lang gesigte, skuldige gewetes en pyn in die hart.

Maar toe gebeur een van daardie vreemde dinge, wat mense met ‘n geloof in die bonatuurlike graag oorvertel: Dr. Ward sterf ewe bedagsaam in sy hospitaalbed in Londen. Enkele ure na verskyning van die koerant in die verre Bloemfontein, maar darem nog voor die aankoms van die koerant by sy verste punte.

Amper asof daardie grapjas in die Kaap ‘n voorbode gehad het!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page