FENIKS UIT DIE AS
- Uitmelkbos
- Mar 15, 2011
- 2 min read

Skewe lamppale in Kobe – gedenkteken aan ‘n enorme aardbewing.
Hoe ‘n verpletterde Japanse stad letterlik soos die spreekwoordelike feniks uit die as kan verrys ná ‘n massiewe aardbewing het ek in 1998, in ongeloof, in die stad Kobe, naby Osaka, met my eie oë gesien.
Kobe is op 17 Januarie 1995 feitlik platgevee toe die aarde 20 sekondes lank aan die ruk en beef gegaan het in ‘n skudding wat 6,9 op die Richterskaal gemeet het. Altesaam 6,425 mense is dood, 25,000 beseer en 300,000 dakloos gelaat in die ergste aardbewing in Japan sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.
‘n Skrale drie jaar later is die 51ste Wêreldkongres van Koerante in Kobe gehou; ‘n moderne, mooi stad wat met die gewone Japanse doeltreffenheid funksioneer. Die afgevaardigdes kon kwalik agterkom watter verwoesting in sy onlangse geskiedenis plaasgevind het.
Met onverbloemde (en geregverdigde) trots is aan ons CD’s uitgedeel met ’n grafiese uitbeelding van die aardbewing en die merkwaardige rehabilitasie te midde van die uiterste ontreddering, chaos en ontwrigting. Binne ‘n week van wonderwerke was kommunikasiekanale weer op dreef; water en elektrisiteit grootliks herstel en die verkeer aan die vloei.
Ongelooflik! Ek glo die wonderwerk wat in Kobe vermag is, is die model waarop ook die heropbou van die stukkende stuk Japan ná die jongste reuse-aardbewing en verterende tsoenami geskoei gaan word.
Voordat ons in Mei 1998 vir die kongres na Japan vertrek het, is ons met heelwat innligting oor die aarbewing van 1995 gevoer. Ek, en seker baie ander koerrantemense vanoor die wêreld, het met ‘n sekere huiwering in grys onweer op die die Kansai-lughawe afgeklim.
Hoe heel kan ‘n stad wees net drie jaar nadat sowat 100,000 geboue verwoes en beskadig is, die padnetwerk (die vernaamste snelweg inkluis) in duie gestort en spoorlyne uitgeruk en opgevou is (die skade was minstens $132 biljoen)?
Die hoflike Japanners wat hulle met hul knap organisasie van die kongres, wellewendheid en gasvryheid onderskei het, het uit hul pad gegaan om vir die besoekers te wys dat Kobe nie net kosmeties reggeruk is nie. Hulle het ons gou oortuig: hul stad is waarlik heel.
Die skewe lamppale wat oorgebly het, is doelbewus so gelaat – as gedenkteken.
Ek is daar weg, enersyds, met genoeglike herinneringe aan veral die beroemde “Kobe beef”, die vleis van beeste wat met massering en bier spesiaal voorberei word om koningskos te word. Ek is voorts deur die Japanners se durf, motivering en dissipline begeester.
Geen ander nasie sou hulle kon nadoen wat hulle in Kobe reggekry het nie.
Wat nogal iets sê van daardie nasie se stoffasie is dat in die dae ná die aardbewing geen, maar geen, plundering van winkels plaasgevind het nie. Selfs juwelierswinkels het onbeskermd oop gestaan. Niemand het iets gevat wat nie aan hom/haar behoort nie. Vergelyk dit met wat ná die orkaan Katrina in New Orleans aan die orde van die dag was, en ook aan optredes in ons eie land.
As ‘n mens so kyk na die tonele op jou TV–skerm van die huidige pyn en ellende van Japan wil jy moedeloos voel. As jy die Kobe-ervaring in herinnering roep, kry jy moed.
Comments