Nico Geldenhuys skryf oor Skoppensboer, deur Duanne Aslett. (Boeke24) Geldenhuys skryf oor die verhaal en sy konteks, hou van die beskrywings van jaagtogte en aksie, maar sukkel om sy kritiek op die roman te verwoord. Wat nogal ’n probleem is, want dit klink vir my, as ek die resensie lees, dat ons hier te make het met ’n belhamel wat nie uit die teks wil opstaan sodat mens hom kan sien (soos Chris Karsten of Deon Meyer se booswigte doen nie) en vir hom skrik nie.
Toast Coetzer resenseer Die Alibi Klub, deur Jaco van Schalkwyk. (Rapport Boeke) Wat so lekker is van hierdie resensie is die manier een woordkunstenaar reageer op ’n ander. Coetzer se beskrywing van die manier waarop Van Schalkwyk woorde gebruik, is openbarend. Hy stip die roman nie aan as meesterstuk nie, maar die feit dat hy geen negatiewe kritiek lewer nie, sê baie. Wil nou die boek lees.
Riette Rust resenseer Wie is ek? deur Louis Awerbuck en Lise Swart. (Rapport Boeke) Dis soos om jou tong raak te byt terwyl jy iets wonderliks eet. Riette Rust laat knal in die eerste paragraaf ’n gruwel van ’n cliché, en die koerant se redaksie gryp dit aan as opskrif – maar lees jy verder, sien jy dat Rust ’n gewikste resensent is.
Jannie Malan resenseer Al die lieflike dade, deur Charl-Pierre Naudé. (Netwerk24) Verruklik. Malan se resensie is vry van akademiese gefemel, en alles wat hy oor die bundel sê, wink mens nader daaraan. Dit voldoen aan die twee groot vereistes vir ’n koerantresensie: informatief, evaluerend. Dit is toeganklik vir die leek, en wen dus vriende vir die digkuns. Uiteindelik verwonder ek my oor die gebruik van “pleeg” in die slotparagraaf. Is dit doelbewus gebruik? Indien wel, gee dit ’n effens mnder geesdriftige inslag aan die resensie, wat andersins in die teken van geesdrif staan.
Comments