top of page
  • Uitmelkbos

FEES VAN KARRE


Drie Doges in my lewe


In die rolprent Hitchkock is die “master of suspense”, wat my betref, ietwat karikatuuragtig uitgebeeld – selfs as ‘n pervert wat die mooi jong aktrises afloer. Eerste keer dat ek daardie nare suspisie teëkom.

 Maar die wonderlike karre! Ek glo vas my era se karre, meisies en musiek was die mooiste. In die laat 50’s is op elkeen van hierdie drie terreine weergalose hoogtepunte aangeteken.

 Veral met karre. Die  1958 Cadillac Series 62  waarmee Hitchkock en sy vrou,Alma, in die rolprent ry, is ‘n Meneer.  Soveel styl en elegansie voortgetower uit staal, chroom en glas!  Daardie vinne is onvergeetlik (Foto).


Die Cadillac Series 62


 Vreemd genoeg, is my persoonlike  ervaring van Amerikaanse karre beperk.  In my lewe was darem drie Dodges. Op die saamgestelde foto is die 1972 Dodge SE – so  ‘n maroene met ‘n  ligbruin vinieldak – wat ek in ‘n kompetisie van die NP gewen het. Beste limerick ingeskryf.  My wenkar het petrol gesuip maar wyd bewondering uitgelok as jy iewers parkeer waar mense sy skoonheid kon bewonder.  

 Die swart Dodge Kingsway is ‘n 52-model.  Pa Malan het my Durbanstasie toe gevat in die nuwe kar vir ons skoolgroep se vertrek Kaap toe vir die Van Riebeeckfees.  Soos ons deur die stad ry, het ek groots agterin gesit en meerderwaardig geglo almal in Durban is jantjie oor die blinknuwe swart gevaarte.

 Die ou Dodge is ‘n 38-model, meen ek.  


47 Chev


My Van Deventer-pa het so ‘n kar gehad. Ons het in 1944 daarmee van Babanango Kimberley toe getrek toe my pa se grondjie moes verkoop oor sy seuntjie se swak bors.  Hy het hom gou vir ‘n Hillman Minx verruil; hy was nie meer ‘n boer wat so ‘n swaar kar kon bekostig nie.  Die Minx was skaars in ons motorhuis in Diagonalstraat toe my pa ‘n noodlottige hartaanval kry.

 Toe ek in 57 in matriek was, was die motors voor Volkies se koshuise  ‘n fees as ‘n koshuisnaweek aanbreek. O die Chevs, Fords, Chryslers, Studebakers en nog wat van die ryk Wes-Transvaalse boere.  My meisie se pa, eienaar van ‘n motorhawe,  had so ‘n blou plat Studebaker – begeerliker as sy dogter (amper).

 Ons het daardie tyd met ‘n 47 Chev gery (foto). ‘n Ramkat-kar op sy dag gewees.  Tien jaar later het hy egter ietwat afgesteek by die nuwe modelle.

 Maar dit was die laaste Amerikaanse kar in my lewe. Moes hom meer gewaardeer het.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page