top of page
  • Uitmelkbos

FEES IN DIE JAKKALSBESSIE


Vir wie dit die grootste fees was weet ek nie: vir die luiperd met sy jong vlakvark in die takke van die jakkalsbessie skaars vyf meter van die pad of vir ons groepie Sabieparkers wat in Maroelaan kom en gaan met ons verskeidenheid kameras – van selfoonbuksies tot die langste van langlens-menere.

Wat ek wel goed weet, is dat die wintervakansie van 2009 weer, soos altyd, sy hoogtepunt opgelewer het wat bo alle ander belewenisse en ervarings uittroon.

Dit gebeur nog elke jaar sedert ons in 1998 winters (en soms somertye ook!) hier aan die wal van die Sabierivier, twee kilometer van die Krugerwildtuin, kom nes skrop het. Een dag iewers vroeër of later elke vakansie gebeur iets wat jy instinktief besef: hier’s dit. Hier’s ons vakansie van vanjaar nou in ‘n enkel belewenis vasgevang en gedefiniëer. Niks gaan dit vanjaar klop nie.

Gewoonlik is dit een van die groot vyf wat vir die bobaas-belewenis van ‘n vakansie sorg: ‘n trop leeus, ‘n horde olifante, buffels, renosters, olifante en renosters saam soos in 2008 by die piekniekplek… en nou ‘n massiewe luiperdmannetjie met sy vlakvarkie in die boom.

Vroeg oggend het ek en Tokkie die oopgespalkte vlakvarkie gewaar. ‘n Entjie verder, in die koelte, was die luiperd rustig in ‘n driffie. ‘n Hiëna het vol verwagting snuif-snuif opgedaag.

Die middag sê ek vir Tokkie: wil jy nie gaan kyk wat by die luiperd aangaan nie? Binne enkele minute is sy terug. Die luiperd se feesmaal is in alle erns aan die gang.

Ons was betyds vir ‘n strategiese stilhouplekkie in die smal gruisstraatjie. Met my kamera vasgenael op die luiperd kon ek elke beweging volg, terwyl hy stuk vir stuk korte mette maak van sy prooi.

Onder het twee hiënas gewag, trippelend van lus.

In ‘n stadium het waarskynlik die mensesamdromming die luiperd begin irriteer. Hy gryp grommend wat oor is van sy vleis (albei sappige boudjies was nog ongeskonde) en is woerts uit die boom uit met die vleis in sy kake.

Heeltmal so slim was dit nie. Onder het die hiënas gewag, oorgehaal vir ‘n skermutseling. Onse luiperd het kortom geswaai en is weer die boom op waar hy sonder enige spanning of haas sy ete kon voltooi. Toe was hy uitvoerig sy mond en pote en verdwyn in die bos.

Die volgende oggend het Tokkie hom weer in die boom gekry. Hy was ‘n boudjie aan die geniet.

Van ‘n ander toeskouer het ons later verneem ‘n element van sorgeloosheid het ingesluip wat hom uiteindelik duur te staan gekom het. Tussen die tak en die mond val een boudjie toe op die grond, waar ‘n dankbare hiëna dit gryp en verkas vir ‘n “fees van die ongenooides” (met verskoning aan P.G. du Plessis).

Uit nuuskierigheid is ons later weer na die toneel. Alles was stil, met geen teken van die natuurdrama wat ons bevoorreg was om te beleef nie. Uit die hope, hope foto’s sit ek ene hierby. Later, dalk eers terug in die Kaap, sal ek op Picassa ‘n albumpie sit

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page