‘n Paar vinnige dinge het in die lewe van die Van Deventers gebeur. Vergun my asseblief ‘n kort familie-flitsie om bekendes in te lig.
Vir eers is Michael se aanneming bekragtig. Hy word nou Michael van Deventer, ons vierde kleinseun (geen kleindogters, ongelukkig, want klein meisietjies is alte fraai en dierbaar!)
Johan en Mariza van Deventer se status (en verantwoordelikhede) verander dus nou van pleegouers tot werklike ouers. Oor dié ontwikkeling is ek en Tokkie ingelig pas nadat ons op Sondag 15 November van ons bootvaart op die Sinfonia in die Kaap terug was.
Enkele dae later is Johan aangestel as takbestuurder van Tile Africa op George. Hy skuif al Maandag oor Suid-Kaap toe vir wat hopelik die begin van ‘n goeie nuwe loopbaan sal wees (al sal hy sy whiskeytjie op George aanvanklik sonder water moet geniet!)
Hierdie week is hul huis op Melkbos verhuur en het hulle dadelik op George gehuur. Mariza en Michael volg Johan oor twee weke.
Donderdagaand het Johan en Mariza hier by ons aan huis saam met ‘n groepie vriende gekuier om Michael te verwelkom en Melkbos te groet.
Ek wou ‘n grappie oor die Van Deventers se aktiwiteite in die teelbedryf/teëlbedryf maak.
Marisa Claassens, ons dogter, is (namens haar tweelingseuns, Jacob en Thomas) ‘n geregistreerde Labradorteler. Michael se swart Labrador-reun, Sam, is, trouens, een van die Claassense se Sjasja se eerste werpsel. Sasja (‘n goudbruin hond met al wat ‘n “papier” is) was, op haar beurt, ‘n geskenk aan die tweeling van Johan en Mariza.
Nou betree Johan die teëlbedryf (met ‘n umlaut)… en Sam groei só vinnig dat hy binnekort sy kleim ook aan daardie front sal kan afpen (sonder ‘n umlaut).
Die geheue is ook nie meer wat dit was nie. Toe vergeet ek my teël/teel-storie totentaal. Gelukkig (en dankie vir die geduld) dat die blog soms ook vir persoonlike dinge ingespan kan word.
Comentários