top of page
  • Izak de Vries

Facebook? Vryheid het ’n prys

Facebook kan binnekort aan MicroSoft behoort. Jip! Nadat Yahoo! se eienaars hulle pokerspel verloor het, is MicroSoft besig om in die openbaar te vry na Facebook.

Mark Zuckerberg, wat US$ 15 Miljard kan maak uit die verkoop daarvan, is nou besig om, eweneens in die openbaar, vir almal te vertel hy wil darem net seker maak dat almal weet Facebook moet altyd onafhanklik bly. (Lees hier.)

Kassie sê dis nou soos wanneer die meisie, reeds op pad af in die straat, huis toe roep en sê: “Toemaar, Mamma! Ek het my pilletjie gedrink!”

“Ja,” sê Madlala. “Maar vir nege nulle sou jy ook ja gesê het.

“Ek skat so,” sê ou Kassie.

“Vir 15 miljard kan ek ’n NGO begin en ’n Eos koop,” sug Madlala. “Dalk selfs ’n A5.”

Vir mý is die hele gevry na die vryheid van die internet deur MicroSoft ’n interessante een. Is dit omdat hulle opposisie lank nie meer kom van WordPerfect en daardie ouens nie, maar wel vanuit die gratis omgewings?

Met OpenOffice kan ons deesdae alles doen wat jy in die ou dae net met oom Bill se suites kon doen, of jy moes baie betaal vir ’n klomp verskillende pakkette. (Sien: http://www.openoffice.org/)

Natuurlik moet ons ook nie vergeet van Google! se eie sagteware wat deesdae ook inbreuk maak op oom Bill se verkoopsyfers nie.

Die vraag is: Hoe lank hou vryheid? AVG is deesdae besig om soos ’n konglomeraat te begin optree. Ek moes onlangs ’n netwerk heeltemal oordoen na iemand ’n AVG-suite daarop geïnstalleer het.

Adobe, aan die ander kant, gee steeds hulle Acrobat Reader gratis weg, maar hulle ander produkte, soos PhotoShop en InDesign, bly deksels duur.

En LitNet? Gaan ons bloggers onsself die vryheid gun om lank en gelukkig saam te leef?

Dis interessant om te sien wie die meeste besoek word. Sonia Cabano is natuurlik ’n huishoudelik naam en haar werk is uitstekend, maar dalk moet ons Meisiemens en die Soet klein katjie salueer. Hulle weet wat die leser wil hê! (Of is hulle goeie bemarkers? Maak nie saak nie, dan sê hulle mos vir die mark wat hulle wil hê.)

Lank lewe vryheid!

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page