top of page
Uitmelkbos

FACEBOOK-VERRASSING


Of Facebook vir jou fassinerend is of ‘n flou perd wat jou verveel – ek is een van diegene vir wie Facebookers se aktiwiteite soms uiters veeleisend raak! – is verrassings op die sosiale netwerk nie uitgesluit nie.

Ons Randburgse bure van die jare 70, Neil en Estelle McLeod (foto). het na 40 jaar via Facebook weer by die Van Deventers opgeduik. Ek kon Tokkie verras met die nuus dat Mike (Mikie) McLeod verlede Saterdag trou.

Ons het in die tweede helfte van die 70’s oorkant die McLeods gewoon in Maroelastraat, Randparkrif 3. Kinders was nog klein – het saam in die stil straat gespeel en soms saam met die ma’s, wat hegte vriendinne was, gaan piekniek maak.

In 1980 is ons Bloemfontein toe. Neil se besigheid – Mr. Gate – het in heersende omstandighede gefloreer, en hulle het in Sandton ‘n herehuis gebou. Kontak het, soos dit maar gaan, met die jare minder geword.

Saterdag kon ek egter vir Estelle laat weet: “Afrikaanse bure …. Afrikaanse gelukwense. Hoop Mike en die gelukkige nooi loop ‘n lang, gelukkige pad saam en die liewe McLeods van Maroelastraat, Randparkrif, kry net vreugde uit die verbintenis.” Estelle het verras gereageer: “We have all come such a long way. Best of love to all your family.”

Ek dink ek skuld die McLeods ‘n verskoning. Na ons Amerikaanse jaar in 1976/77 het ons een aand met ‘n bliktrommeltjie vol skyfies – die ou garde sal skyfies onthou – by hulle opgedaag en die arme twee drommels ure lank met ‘n amperse fotografiese totaalbeeld van die Van D’s se Amerikaanse dinge opgesaal. Dit was wreed. Die arme Estelle het later ingedut en al hoe rustiger begin asemhaal.

Neil skuld dalk weer vir Tokkie ‘n verskoning. Sy het ons posbus op die hoekpaal van die heining vasgegom. Die buurman met sy meerdere tegniese kennis was bra skepties – “sallie hou nie!” Wel, Neil, my vriend, dit het gehou – totdat ons in 1980 uit die Rand weg is. Of dit weer gom gekry het, weet ek nie, maar 20 jaar later het ons by ons ou huis verbygery. Toe staan die posbus nog op presies dieselfde plek.

Neil het nie boeremeisies van Bultfontein geken nie.

Ek en Neil het meermale saam gaan krieket kyk op die Wanderers. Ons het ook ‘n paar biere in ons lewe saam geknak. Hy had die wonderlike buregewoonte om met ‘n bottel wyn oor te stap en aan te kondig: “As jy glase het, ek het vir ons wyn.”

Tokkie onthou hoe sy een oggend haar as afgeskrik het toe sy vir Estelle bel op haar verjaardag. Toe die telefoon lui, se Neil: “Hi. Tokkie.” My vrou was in die beskutte omgewing van haar slaapkamer in die minimum onderklere. Sy dag die slimme Neil het ‘n manier geprakseer om oproepers op ‘n skerm te sien, en wil met alle geweld onder die bed induik. Toe blyk dit darem Neil het via sy kantoor verneem dat hy ‘n oproep van sy oud-buurvrou te wagte kan wees. Sy het by die kantoor aangeklop vir die nommer.

Mike, die bruidegom, moet ook al ‘n man van anderkant 30 wees. ‘n Geheimpie rakende hom wat ons al lank saam met ons dra, was sy kinderlik-onskuldige verduideliking een keer hoekom pappa nie die telefoon kan kom beantwoord nie: “Daddy is poo-ing”!

Ek dink ons moet moeioe doen om vir die McLeods te gaan kuier. Buiten vir al die oor-en-weer-uitvraery en die ekskuus-vra vir dit en dat, soos hierbo uiteengesit, sal ek die geleentheid sommer ook wou benut om met my buurvrou ‘n appeltjie te skil.

Tokkie beweer die volgende woorde het op ‘n keer oor Estelle se lippe gekom: “As jy jou arm sou verloor, sou Hennie net eendag vir jou vra: ‘Hoekom loop jy dan so snaaks?’”

Ek wil dit nie graag glo nie. Maar ek moet. Dis nog ‘n goeie eienskap van my vrou., Buiten dat sy posbusse vir ewig kan staan maak met ‘n paar smere gom, lieg sy nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page