top of page
Izak de Vries

Eucalyptus


Papierboek 2 - Sien heel onder vir die e-boek

So nou en dan gebeur dit ek ’n boek lees wat my net heeltemal anders laat dink oor die letterkunde en die lewe. Eucalyptus, deur Murray Bail, is een so ’n boek.

Dit is ’n liefdesverhaal, ’n doodgewone liefdesverhaal, wat ook letterkundige pryse losgeslaan het – en my voete onder my uit. Ek kon nie wag om laataand weer in die bed te klim en nog ’n paar hoofstukke te lees nie.

Waaroor gaan die boek? ’n Man plant sy hele plaas vol Eucalyptusbome en, wanneer die bome en sy dogter mooi groot is, dan skryf hy ’n kompetisie uit: Die eerste man wat al die bome op sy plaas reg kan identifiseer, kan met sy dogter trou.

Dit is dus ’n sprokie. Julle kan dink hoe die verkeerde man die waarskynlike wenner is, hoe die dogter voel en dan... is daar hoop? Lees self. Ek dare julle!

Dit is ook ’n literêre roman. Die pa waarsku die dogter gereeld teen mans wat vir haar stories vertel, en natuurlik daag daar dan een op – wanneer dit eintlik al te laat is... Wat gaan gebeur? Lees. Julle sal nie kan ophou. Weens die meta-aard van die teks moet ’n mens kophou, maar dis iets wat enige leser sal kan baasraak.

***

Terloops. Daar is meer as 600 spesies Eucalyptus in Australië. Die boek vertel jou oor talle van die verskillende spesies, en dis fassinerend. (In Suid-Afrika ken ons die Bloekom goed.)

Soos dit nou maar gaan, maak boeke ook my oë oop vir die wêreld. Ek woon nou al meer as twee jaar naby ’n parkie waar ek feitlik daagliks met my honde gaan stap. En na ek Eucalyptus begin lees het, kom ek skielik agter die hele park is vol verskillende Eucalyptusbome geplant. Genade.

Ek moes hulle natuurlik toe afneem.

***

Eucalyptus is al ’n ou boek, dit het reeds in 1998 verskyn, maar Izak is mos maar stadig. Gelukkig het ek goeie vriende. Maya Fowler (An elephant in the room) het dit so ’n ruk gelede nodig gevind om my op te voed en dra nou en dan boeke aan wat sy dink ek moet lees. Is vriende nie wonderlike goed nie?

Ek wil vra: Lees eers die boek voor jy enige resensies lees, want daar is spoilers ingebou in talle van die resensies. As jy my nie wil glo nie, kyk wat Michael Ondaatje hieroor sê: “One of the greatest and most surprising courtships in literature.

As jy nie vir my én Ondaatje wil glo nie en meer wil weet, kyk gerus na hierdie skakel, maar hier is spoilers in, jy’s gewaarsku: http://www.trojanpress.com.au/assets/Oz_23_what_tree.pdf

Die boek is ook as e-boek beskikaar. Kliek hier vir die e-boek.

2 views

Recent Posts

See All

Commenti


bottom of page