top of page

Etiket met Emsie

Chomsetussenbetragtings

Hoe om korrek op te tree wanneer jy jou gunsteling Afrikaanse sanger ontmoet Wanneer u die gewilde minnesanger Dozi raaksien, kyk op... anders sal hy u nie sien nie. Maak seker u spreek die "z" korrek uit. Dit is slegte smaak om hom uit te vra oor hoekom sy asem so stink.


Dit is uiters swak smaak (en mag dalk tot 'n blouoog lei) indien u die sangeres Amore Vittone vra of sy net kinders kry om in die kollig te bly. Net omdat u dink dat sy 'n betwyfelbare sangtalent het, beteken dit nie dat u haar so mag beledig of, in haar geval, bemoedig nie. Moet haar ook nie uitvra of sy onlangs enige goeie video's gesien het nie.

Indien u vir Steve Hofmeyr raakloop, moenie vra vir 'n a capella weergawe van sy treffer "Pampoen" nie - hy mag dit dalk net doen. Indien u tussen die ouderdomme van tien en vyf-en-twintig is, mag Steve aanstoot vind indien u vra vir 'n speekselmonster aangesien u dink "hy is jou pappa". Koes solank as hy besig is om tee te drink.

Indien u die opkomende talent Robbie Klay ontmoet, vlei hom dat hy "mullet" afgesny het. Dit is nie baie goeie smaak om vir iemand onder die ouderdom van twintig te vra hoeveel ongehude kinders hy het nie.

Dit is uiters ongemanierd om in gesprek met die operaster Manuel Escorcio, die woorde "Porra" en "Is dit jou kafee daai ene?" te gebruik.


As u Johan Stemmet raakloop, komplimenteer hom dat hy baie lanklaas 'n musiek-CD vrygestel het. Die kleurvolle onderbaadjie wat hy aanhet - veral in lewende aangesig, mag aanleiding gee tot braking, maar dit is ongeskik om dit voor hom te doen. Doen dit liewer binnemonds. Indien u sukkel, oefen solank deur aanhoudend na die liedjie "Pappa se dogtertjie" te luister. Indien u ons eie "loslappie" Kurt Darren ontmoet, kan dit tot ongemaklikheid lei indien u te lank staar na sy misvormde gesig. Begeef uself in die feit dat sommige manne ook partykeer grimering dra.

Indien u die Groep twee sanger en Wielie Walie aanbieder Gert van Tonder raakloop, sal dit onvanpas wees om te vra of hy enigiets te doen gehad het met die gay kouse wat so in en uit die kas was op die stel van Wielie Walie. Gert was net 'n aanbieder van die program en ek weet ook nie of hy nog leef nie.

Wees taktvol wanneer u die sangeres Juanita du Plessis ontmoet. Sy is wel 'n gewilde Afrikaanse ster, maar het nog nie die taal onder die knie nie. Gebruik klanke soos oi-oi en patti-patti indien u met haar wil kommunikeer. Indien u u Juanita-woordeskat wil vergroot, neem 'n boek saam bed toe en noteer die klanke wat u uiter tydens geslagsgemeenskap.

Indien u die immergewilde Anneli van Rooyen ontmoet, moenie woordspelings maak oor haar "Eerste liefde" nie. Mense bly ongehuud vir verskeie redes. Dit sal onvanpas wees om vir Andre Schwartz te vra of hy mense verkies soos in sy musiekvideo "Ek wil jou nooit weer sien" - manne geklee in vroumensdrag. Indien u 'n ongetroude man is tussen twintig en vier-en-tagtig, sal ek u aanraai om liewer nie die geselskap van Sunette Bridges op te soek nie. Geen ordentlike, Calvinistiese man moet tot sulke laagtes daal nie.

Rina Hugo sal nie geamuseerd wees indien u haar vra "Is daai mal spinnekop agter die perkussiestel van Noot vir Noot jou kind?" en "Ek wonder hoe hy daar gekom het?". Wees taktvol en bly maar liewer stil. Wees bly dat u nie so 'n kind het nie.

Die jong talent Nadine sal aanstoot vind, indien u haar vra "Wanneer hou jy op?". Onthou, swak smaak verskil.

Indien u Jurie Els raakloop, maak maar eerder of u hom nie ken nie. Hy sal langs 'n afgetrede atletiese figuur loop. Onthou, Jurie sal die korter, gegrimeerde een wees van die twee.

0 views

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte...

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's...

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page