Tukkies was die regte plek vir my ingevolge my destydse waardebepaling van universiteite, wat in my Volkiedae op Potch gevestig is deur maats met ouer broers wat trotse draers was van die rooi, blou en goud en by intervarsties, ingehaak by mooi meisies, wiegend heen-en-weer gesing het:” Laat elke ou Tukkie sy glasie volmaak …”
Van Kollegetehuis en sy “berugte” tradisies het ek genoeg gehoor om ‘n brandende ambisie te ontwikkel om een van Sarge Bourke (ons gelukbringer) se kudde te word, en niks anders nie.
Die verre Maties, waarheen my vriend Willem Hartzenberg, op die nippertjie sy skrede gewend het op aandrang van ons Geskiedenisonderwyser, Chris van der Walt, was ook aantreklik (veral Wilgehof!) , maar buite bereik van ‘n arm outjie. Puk, in die bodorp van van Potch was nooit ‘n opsie nie.
Kan nie eens sê “I’ve considered and I’ve reconsidered” soos George Bernbard Shaw (meen ek) van die huwelik nie. Die gedagte om Puk te word, het nie by my opgekom nie. Van die Kovsies was ek, vergewe my Vrystaatse vriende, in daardie stadium salig onbewus.
Nou-ja, nooit was ek spyt ek vyf jaar lank ‘n Tukkie en ‘n Kollegeman was nie. Tot vandag toe is ek in murg en been ‘n Tukkie. A-ra-ra-ratio! Goue jare gewees.
By ASB-kongresse was die dra van ‘n Tukkiebaadjie altyd vir my iets soos ‘n onderskeidingsteken. By die Puk-afvaardiging by ‘n kongres op Stellenbosch was ‘n bordjie met die amptelike universiteitsnaam P.U. vir C.H.O. Ons Tukkies het by ons eie U.P. gevoeg “vir K.W.V.”, en gedink ons is darem veel wêreldwyser.
Vir die Puk het mettertyd ‘n solieder respek begin groei as wat ek in my melkbaarddae gehad het. Goeie produkte het uit die CHO-omgewing gekom – leiers op elke terrein. Soos universiteite toenemend “getransformeer is”, het die Puk onder die verbeeldingryke leierskap van Theuns Eloff op my respektelys bly klim. Tukkievriende het hul kinders selfs van Pretoria af daarheen begin stuur.
Ons het vir mekaar begin sê: “Die Puk is nou wat Tukkies was toe ons universiteit toe is.” Dis die plek waar ‘n mens nog tuis kan wees in jou eie taal en tradisies.
Pas gister, eergister hoor ek van ‘n Tukkietydgenoot wie se kleindogter in matriek ook Mooirivier se kant toe mik. Sy was enkele dae gelede soontoe vir ‘n onderhoud.
Maar nou sit ek met ‘n persepsieprobleem. Die “goeie ou Puk” is op ‘n wyse aan daardie oulike meisiekind openbaar wat my laat wonder of ou waardes aan’t verander is.
Sy het in trane uit die onderhoud gekom en gerapporteer dat sy veral oor twee goed gedril is: die standaard-Afrikaans wat sy praat en haar besadigde kleredrag. Sy moes verduidelik hoekoms praat sy so konserwatief- ortodoks en hoekom trek sy so behoudend aan.
Vir haar reaksie gee ek haar 10 uit 10. Sy kom uit ‘n huis wat Afrikaans so praat en wat so aantrek, was haar pronte antwoord.
Dalk was dit die antwoorde wat die Pukmense inderdaad wou gehad het, want sy is gekeur vir die kursus. Wat my hinder: sê nou net sy is gekeur nie as gevolg van nie, maar ondanks haar antwoord.
Gaan ons binnekort ook van die Puk moet sing (soos van die Maties, die Tukklies en in ‘n sekere sin ook die Kovsies (Jonathan Jansen ten spyt): “The old grey mare, she ain’t what she used to be?”
Comments