ENGEL MET DIE VERFKWAS
- Uitmelkbos
- May 2, 2009
- 2 min read

As dit gereent het in die Vrystaat en die boere trek hul John Deeres uit die store, het my kollega Johan van Wyk in Stop van Myne (sy rubriek in Die Volksblad) altyd wrang kommentaar gelewer: “Die blerrie fools ploeg al weer.”
My Tokkievrou verf al weer. ‘n “Blerrie fool” sal ek haar vredesonthalwe nie noem nie, maar om jou siel so te laat versondig, is darem ook nie die toppunt van wysheid nie.
Tokkie se moeilikheid is die standaarde wat sy stel. Sy’s boonop verslaaf aan verf. Sy’s oor verf omtrent soos – nog ‘n Johan van Wyk sêding – ‘n hoender oor ‘n winkelstoep.
Toe sy 60 geword het – sal nie uitlap hoe lank gelede nie! – het ek Pierre van Manen, nog ‘n oud-kollega, gevra om Tokkie as die “engel met die verfkwas” te skilder. Die resultaat is hierbo. Mooi, Pierre – ek dink jy het knap gedaan.
Die oorsprong is iets wat een keer deur een van die Van Deventer-kinders kwytgeraak is en toe in die gesinskring die status van folklore verwerf het. Dit is dat sy in die hemel sal aankom en onmiddellik sal begin rondkyk waar ‘n bietjie verf of vernis nodig is.
Ewenwel,sy wag al lank om die huis weer oor te verf. Verlede week of so hoor sy van ‘n “goeie verwer”wat in die buurt bedrywig is, en katrol hom dadelik in.
Van toe af is dit sy en Christo.
Waarvoor die stomme Christo hom nie klaargemaak het nie, is dat sy die dak sal opklouter en oor sy skouer kom loer. Dan laat sy haar ook nie onbetuig nie. Christo jy moet sus, Christo jy moet so …
Van sy skeptisisme oor van haar uitsprake maak sy korte mette:”Jy moenie dink ek praat sommer nie; ek het my ‘papiere’.” Dié verrassende mededeling verower terstond sy respek.
Van toe af dra haar uitsprake meer gewig – buiten in een opsig. As hy krakies dokter, hou hy daarvan om dan hier, dan daar te peuter. Dit frustreer T. eindeloos.
Later fomuleer sy wat ek as die Wet van Tokkie wil laat opskrywe iewers: “Kyk, Christo, as ek ‘n aartappel skil, dan vat ek hom en ek skil hom klaar. Ek skil nie ‘n bietjie hier en dan ‘n bietjie daar nie. Verstaan jy?”
Ja, hy verstaan, sê Christo.
Nou-ja, helaas bestaan natuurlik ‘n verskil tussen verstaan en onthou. Gistermiddag is daar weer kommosie toe Christo vergeet.
T. is stomend.
“Ai,” sug Christo,”mevrou moet tog nie so kwaad word nie. ‘n ‘Painter’moet aan so baie dinge gelyk dink, toe vergeet ek skoon van mevrou se aartappel!”
Die woord wat sy uitgesis het toe sy die storie vir my kom oorvertel, is nogal verwant aan die aartappel-bedryf.
Comentarios