top of page
  • Uitmelkbos

ENGEL GABRIEL EN DIE ANC

Die vraag of Gerrit Viljoen – as hy nie siek geword het nie – Pik Botha, of wie ook al, in 1994 ‘n beter “deal” vir witmense met die ANC sou kon beding het as Roelf Meyer is een van daardie debatspunte wat gedurig opduik.

My Melkbosse vriend Jacko Maree, oud-politikus en betrokkene by die onderhandelinge, spreek die vraag uitvoerig aan in sy nuwe selfpublikasie “Kwessies”* en kom tot die gevolgtrekking – darem nie in soveel woorde nie, maar as ek sy strekking reg verstaan – dat selfs die engel Gabriël maar sou gesukkel het.

Toe die beginsel van groepregte vroeg sneuwel, was FW de Klerk se wigte en teenwigte daarmee heen, betoog hy. Met die aanvaarding van die beginsel van een mens, een stem was dit verby met Doris Day as’t ware. Vir Gerrit Viljoen het dit die einde van die pad beteken. Die geweldige druk waaronder hy verkeer het om namens die Nasionale regering ‘n eensame alleenstryd vir groepregte te voer (geen ander party het dit gesteun nie), het sy tol geëis. Die wyse, ervare man het ineengestort en Roelf Meyer is toe verrassend in sy plek as hoofonderhandelaar aangewys.

Jacko reken die ANC is tot beduidende toegewings gedwing oor kwessies soos ‘n regstaat met ‘n goeie grondwet teenoor die gewone Afrikapatroon waar die parlement die hoogste gesag is en die kapitalisme teenoor ‘n sosialistiese diktatuur. Maar daar het die ANC vasgeskop, en die ganse wệreld was aan sy kant. In sy hand was die troewe van die internasionale druk op die regering, die swart getalsoorwig en die gevaar dat die ANC hom tot onbeheerbare straatgeweld sou wend om sy sin te kry.

Die vraag voor die NP was uiters gewigtig: Skop hy die onderhandelinge op, sou hy ‘n revolusie in die gesig staar en afstand doen van die voordele wat wel beding is (regstaat, vrye ekonomie, ens.) By Jacko bestaan geen twyfel nie: “Eerder as om (oor een mens, een stem) toegewings te maak. Sou die ANC oorgeslaan het na volskaalse geweld. Revolusie en anargie sou ons voorland gewees het en ‘n gewelddadige oorname van mag deur die ANC sou onvermydelik gevolg het.”

Hy haal vir Tertius Delport aan wat rug wou styfmaak: “Thank God I didn’t get it my own way …. So maybe, thank God FW didn’t listen to me”.

Oor die verwyt dat FW sonder plan sou onderhandel het – “soos vir ‘n gebruikte motor” beweer een grondwetkenner – skryf hy: “ Die NP was, toe die onderhandelings begin het, beter voorbereid as enige ander party.” Hy noem dat die NP goeie huiswerk gedoen het en ‘n konsepgrondwet opgestel het waaraan ure bestee is.

‘n Ander vraag wat hy behandel , is: Het Ramaphosa vir Roelf ore aangesit? Hy redeneer tot die teendeel. Volgens hom is wel geslaag om “talle suksesvolle buffers” in te bou. Maar hy erken tekortkominge in die grondwet wat al hoe meer “ondeugdelik” word.

Hy bespreek ook moontlik uitweë uit huidige ellendes.Om ingelig saam te gesels, of jy nou hartlik saamstem of ernstig verskil, is “Kwessies” ‘n nuttige uitbreiding tot elkeen se verwysingsraamwerk, en nie net oor die groot politiek nie. Jacko wat lid was van die raad van die Universiteit van Stelenbosch, pak in ‘n ander afdeling die ondergrawing van Afrikaans in Matieland. Hy lig veral die rol uit van die driemanskap Chris Brink, Anton van Niekerk en Edwin Hertzog in die onheuglike geskiedenis, en spaar die roede nie. Uit die binnekring ontvou ‘n verstommende verhaal van taalstroping wat die universiteit en die Afrikaanse taalgemeenskap in die hart gewond het.

* Koop die boek aanlyn vir R300 by jwmaree.co.za

6 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page