Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter, 1873-1901, deur Chris Schoeman. Resensie: Fransjohan Pretorius. (Boeke24) Ek wonder hoe ’n mens Fransjohan Pretorius is. Daar is só ’n kalmte in sy resensie. Hy gee besadig en eerlik ’n mening oor hierdie boek. Eerlik? Hoe meet mens dít? Wel, hy skets die boekemark waarin die boek gelanseer word, en hy som die inhoud op. Hy loof die skrywer vir sy vlyt. Dan kom twee woorde waarna hy die kritiek in ewe besadigde toon laat reën: “En tog.” Ek dink Chris Schoeman het agterna gelouter gevoel. Volgende keer wanneer die jongeliede van die kykNet-resensiepryse bestek opneem, moet julle ’n regstelling maak. Die man raak nie jonger nie.
Oorlog en Vrede: Die morele verbeelding van die mens, deur Willie Esterhuyse. Resensie: Martie Retief Meiring. (Rapport Boeke) Gewoonlik gryp ek my sneesdoekies en hardloop wanneer ’n resensent baie vraagtekens gebruik, en die resensie wemel van verwysings na vrae wat gevra word. Maar nie met Martie Retief Meiring nie. Sy weet resensielesers pluk moer wanneer hulle moet verneem hoe diep ’n boek hulle sal laat nadink en hoeveel hulle gaan leer tydens die leesproses. Ek vermoed sy het die omslag van die boek een kyk gegee en besef hier is ’n reddingsdaad nodig. Sy pak Esterhuyse se hoofpunte en argumente netjies uit, en kom dan by die tyd en plek wat die hedendaagse leser die meeste sal interesseer, hierdie slow release revolusie waarin ons ons bevind. Ek’s mal oor haar slotsin: Oorlog en vrede bied geen gerusstelling nie. Ook nie in Grabouw nie.
Opmerkingen