Aan die vooraand van 70 wens ek ek het tot nou toe minder met mense baklei, sagter en rustiger gepraat as ek my saak stel, meer geluister en minder verbete aan my eie standpunte en oordele vasgeklou.
Ek wens ek het makliker vrede gemaak met omstandighede wat ek tog nie kan verander nie, en in noutes meer op die Here vertrou.
Ek wens ek het my dankbaarheid teenoor die Goeie Gewer, my naastes en almal wat vir my goed was, beter betoon.
Ek wens ek het beter na my lyf gekyk – die skaal het tog oor ‘n lang tyd begin noodseine uitstuur – en groter dissipline gehad as dit kom by lekker kos en wyn.
Elke baken-verjaardag is ‘n tyd vir besinning en bestekopname. Sewentig is des te meer so, waarskynlik omdat die grafiek van lewenswysheid op daardie ouderdom piek, of behoort te piek. Jy kan met groter afstand terugkyk – en met groter realisme vorentoe.
Terugkyk bring verleentheid oor foute, beswaardheid oor kanse wat laat glip is en frustrasie oor koppigheid. As jy dink aan verspeelde geleenthede om vir ander iets te beteken, het jy waarlik
rede om die onbehae in jou te voel opstoot.
Maar watter ellendige mens sal jy nie in jou eie oë wees nie as jy nie ook eerlik met jouself is oor die goeie wat jy in swakheid vermag het nie.
As jy ‘n harde, eerlike, lojale werker was, troos jouself gerus daaraan, voel ek. Gee jouself ‘n kloppie op die skouer as jy voel dat jou betroubaarheid dit regverdig. As jy meesal doelbewus draaie om die kwade gestap het, wel, dan het jy ook in daardie opsig iets positiefs bereik.
Moet dus nie onnodig in sak en as gaan sit nie oor die jare wat verby is nie. Bowenal: wees dankbaar dat jy nie meer bagasie versamel het om jou oor te verknies nie.
Wees dankbaar – dit is dalk die beste advies wat jy jouself kan gee. Dit is immers nie nodig om na die statistieke te gaan kyk nie om te besef dat die meeste mense op die aarde veel groter rede tot swaarmoedigheid het as jyself. Jy sien dit elke dag op die televisieskerm, in koerante, rondom jou.
Dit gaan nie net oor aardse besittings en lewensomstandighede nie, ook oor vermoëns waarmee ‘n mens geseën is om iets te kon bereik, die goeie gesondheid wat jou daartoe in staat gestel het, en die standhoudende verhoudings wat jou deurgaans tot jou beste prestasie aangemoedig en gestimuleer het.
Wees dankbaar dat mense soms jou goeie motiewe herken het, al het jy moeite gedoen om dit amper onherkenbaar te kamoefleer.
‘n Tienstuks oud-kollegas van ‘n generasie jonger as die uwe het ‘n paar aande gelede hier n biertjie kom knak en ‘n vleisie op die kole kom gooi. Die nostalgie het hoog geloop, die anekdotes het gevloei en heerlike humor was aan die orde.
Toe dit na middernag stil raak, was dit tyd vir ‘n laaste glasie rooiwyn … en meditasie. Dankbare meditasie. Want hier kom sê mense wat jy soms te na gekom het, almal vir jou dieselfde ding: Jy was ‘n bliksem, HvD, maar ons is nie vir jou kwaad nie. Ons weet wat jou aangevuur het – nooit kwaadwilligheid nie, altyd net passie vir kwaliteit. Daardie herkenning (erkenning?) maak my amper bewoë dankbaar. Dit bring my ook terug by die begin – by die ek-wens-speletjie. Natuurlik sou ek graag minder met mense baklei het, besadiger my saak gestel het, fyner geluister en minder aggressief my eie standpunte en oordele verkondig het.
Natuurlik sou ek dit ook wil doen in die skof wat nog voorlê – een wat langer of korter kan wees, hoe sal ek weet?
Maar ek sou darem ook nie met minder passie wou geleef het nie. Hoe reddeloos saai en vervelig kan so n lewe nie wees nie! Ewe min sou ek vorentoe ontdaan van alle passie wou leef.
Vir die resep van die lewe na 70 stel hierdie amperse teenstrydigheid nogal uitdagings – om die groter besadigheid, rustigheid en bereidheid om te luister ywerig na te streef, om hard te probeer om rusie en tweedrag te vermy, maar om tog sterk te bly voel oor die dinge waaroor jy sterk voel, en dit by geleentheid te laat “deurskemer”. Jy is immers steeds jy, soos Bart Nel.
Comments