top of page
Uitmelkbos

EK SKIET JOU AS ….


Dit deug nie om te veel in die ou dae vas te val nie. Om “onthou jy nog?” te speel, kan egter tog prikkelend wees.

Die Burger se rubriek wat die horlosie elke dag 50 jaar terugdraai, verlei hierdie 70-jarige om gereeld te gaan loer … sê maar as ‘n soort toets van sy geheue wat roeserig raak.

Vandag 50 jaar gelede is die nuus oorheers deur dr. H.F. Verwoerd se terugkeer uit Londen waar ons vir die Statebond tot siens gewuif het. Ek was een van die 50 000 Suid-Afrikaners wat, borse bultend van ‘n amper heilige patriotisme, op die lughawe Jan Smuts aan hom ‘n helde-ontvangs gaan gee het.

Ai, hoe goed onthou ek die kleurbaadjie-kommando wat met tien munisipale busse van Tukkies se kampus lughawe toe opgeruk het.

Ek was redakteur van die studentekoerant “Die Perdeby”, en het die vorige Vrydag in ‘n hoofartikel my mede-Tukkies opgeroep om aan dr. Verwoerd “hulde te gaan betuig vir die onverbiddelike standpunt in belang van ons vaderland wat hy (oor die Statebondskwessie) op die Premnierskonferensie in Londen ingeneem het.”

Moenie skiet nie, onthou ek was nog maar ‘n brose 20 jaar oud!

Wel, die Tukkies het “Die Perdeby” nie teleurgestel nie. Die busse was voor die Ou Lettere ingeryg. Die een na die ander het propvol na die lughawe vertrek.

“Die Perdeby” van 24 Maart 1961 kon jubel: “Magtige skare verwelkom ons premier – grootste uittog in geskiedenis.” Oor laasgenoemde twyfel ek vandag. Dalk is darem meer Tukkies Johannesburg toe as dit die jaar Wits se beurt was om die intervarsity aan te bied!

Waarby ek egter wou uitkom, is by die rubriekie wat destyds gereeld op die hoofartikelblad verskyn het. By ‘n skets van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistol in die hand was die woorde “Ek skiet jou as jy nie saamstem nie dat …..” Die redaksie het die sinnetjie altyd spitsvondig probeer voltooi.

In daardie uitgawe is eenstemmigheid geëis dat “ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra.” Nogal humoristies, dink ek steeds.

Nie net die rubriek “50 jaar gelede” sit die gedagtes in trurat nie. ‘n Gewone nuusfoto kan dit doen. Op Vrydag 18 Maart was ‘n foto in Die Burger van St. Patrick Day’s-vierings iewers.

Ek vra toe vir Tokkie: “Weet jy waar was ons gister in 1977?”

Sonder die voordeel van die foto voor haar twyfel sy ‘n oomblik.

Toe waag sy, volkome korrek: “Amerika”

“Waar in Amerika?”

Weer volkome korrek: “Boston.” Dit was die jaar van my Nieman-fellow-skap aan Harvard in Cambridge.

“Waar in Boston?” Hier had ek haar – todat ek haar herinner het 17 Maart was St. Patrick’s Day.

Toe weet sy: “Boston-Suid”.

Inderdaad het ons het met die Boston “T” (sulke groen trems) na die Broadway-stasie gery om die optog in hierdie Iersste van alle Ierse woonbuurte in hierdie Iersste van alle Amerikaanse stede te aanskou.

Kleurryke sierwaens, orkeste en mense in groen-groen kostuums is straat af, van die Broadway ‘T’-stasie tot by Andrew Square. Daarna het ons in ‘n Ierse drinkplekkie gaan keel natmaak. Uit die platespeler het opgeklink: “When Irish eyes are smiling….”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page