top of page
  • Uitmelkbos

EK IS NIE HY NIE!

Op die foto hieronder staan Jacob, een van die Claassens-tweeling, medalje om die nek na ‘n verrassende sege in sy ouderdomsgroep in die vryslag op die Laerskool Welgemoed se swemgala – waarskynlik omdat hy in ‘n aggressiewe luim gebring is deur wat hy beleef het as ‘n premature verwydering van sy bril waaraan hy verknog is. Toe skop hy dat dit bars, kloof die water oop … en kom voor die geslypte swemmers van sy ouderdomsgroep by die wenpaal aan.


Natuurlik is Oupa trots en so aan, maar dis nie waaroor hierdie storie handel nie. Ek wil vertel wat gebeur het toe Jacob vorentoe geroep word om sy medalje te ontvang.

Wel… niks het gebeur nie, om die waarheid te se.

“Jacob is klaarblyklik nie hier om sy medalje te kom haal nie. Dis jammer want hy was die wenner,” kondig die mikrofoonman aan net op die oomblik toe die sewejarige kampioen se ma, Marisa, deur die kinders gebeur kom om haar seun tot aksie aan te spoor.

“Jacob, jy word geroep!”

“Ek is Jacob (Jy-cob) Claassens, nie Jacob (Ja-kob) Claassens nie,” kom dit kordaat.

Dis korrek. Hy is Jacob, Jacob Henry, terwyl hierdie oupa doodgewoon Jakob (met ‘n k) Hendrik is. Dis nie van opstersgeid nie. Jacob se pa, Brent, kom uit ‘n Engelse huis.

Ouma Tokkie beweer Jacob se weiering om op die “verkeerde naam” te reageer, is nog ‘n bewys dat hy sy Oupa Hennie se nukke ge-erf het.

My reaksie? “Aikona, dis g’n nuk nie. ‘n Mens se naam is heilig.” Dis soos ek by die koerant ingedril is en by my redaksie ingedril het. ‘n Vriendin, Rina Koen, onthou selfs dat sy doerie tyd by ‘n Anna wou weet: “Anna met twee enne of Ana met een en?”

Dis ‘n ding wat ‘n lang pad kom, hoor, Op Melkbos het ons ‘n vriendin, Maria-Anne (Ma-raaia-Ann)van der Merwe (gebore Louw). Ou dr. D.F. Malan se gade, Maria (Marie-a), ook Maria-Anne gedoop, was haar tante.

Maria-Anne verkneuter haar aan die storie van die tante se doop op Calvinia. Die dominee kondig toe plegtig aan die kind by die doopvont word gedoop Marie-a-An-ne Soo-fiea.

Toe vloog die latere premiersvrou se ouma en Maria-Anne (van Melkbos) se grootjie in haar bank orent: “Excuse me,reverend, you’re getting the pronunciation all wrong. The correct pronunciation is Ma-raaia-Ann Sou-phia (so op zijn Ingels). Die leraar moes mooitjies sy fout herstel.

Maria-Anne het ‘n kleindogter wat ook Maria-Anne is. Ander ouma had hieroor bedenkinge. Totdat sy die historiese agtergrond meegedeel word. Toe swaai sy dadelik om.

Punt is: ‘n mens laat nie met jou naam mors nie. Nooit nie. Tensy jy ‘n papperd is. Skote Petoors, Jacob!

Naskrif: Jacob se boetie, Thomas (Thomas Martin), het Oupa ook in die laaste dae plesier gegee. Hy (wat aanvanklik reserwe was) het hom ontpop as amptelike “Bouler van die Wedstryd” in sy krieketspannetjie se sege teen ‘n buurskool. Daarna moes jy darem hoor hoe Oupa op sy dag die bal kon slinger. Die uwe was mos die skraal swartkop-snelbouler van Potch-Volkies se eerste span in 1956 en 1957, al sou min dit deesdae kon raai!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page