top of page
  • Uitmelkbos

“EK EN MANDELA”

My vriende weet dat ek ‘n tikkie waarheid oor myself verklap as ek Kenneth Galbraith goedkeurend aanhaal: “Modesty is a vastly overrated virtue”.  Maar onbeskeidenheid kan soms dreig om hand-uit te ruk.  Ons beleef op die oomblik iets daarvan.    

Beskeidenheid is ongelukkig ‘n redelik skaarserige item in vele persoonlike huldeblyke aan Nelson Mandela wat oral opduik.  

 My Nieman-maat van 1976/77, Jack White van Amerika, stel dit op Facebook soos volg:  

“Have you noticed how so many of the tributes to Mandela start out with how well that person knew him? And how honored they were to know him? Ego-tripping eulogies…..self-reverential tributes…”

 Jack is ‘n gesiene swart Amerikaanse joernalis, wat in ‘n stadium by die tydskrif  Time in ‘n sleutelposisie was.  Oor die Suid-Afrika van daardie jare het ek en hy in ons Niemanjaar vasgesit. Oor baie ander kwessies het ons nogal by mekaar aanklank gevind. Ons kinders was saamspeel-vriende.  

 Ook oor die die selfverheffing in Mandela-huldeblyke is ek dit met die ou siniese rakker eens. Soos blykbaar in Amerika, is die “ek”-faktor in Suid-Afrika steurend opvallend wanneer sekere mense oor hul eie  “spesiale oomblikke” met Madiba getuig.

 “Hy het spontaan vir my geglimlag; hy het my hand geskud; hy het my by die huis gebel; hy het (reken net!) my kind se hare deurmekaar gewoel.” Foto’s  word opgediep: “Ek en Mandela – sal nooit daardie dag vergeet nie.”

 Gelukkig het die uwe die versoeking weerstaan om in ou foto-albums van die 90’s te gaan delf, en persoonlike herinneringe (nie almal ewe pynloos nie) op te diep wat eintlik vir niemand anders as net vir homself werklik van waarde kan wees nie.  Sonder vrees dat iemand my agter die deur sal betrap, kry ek dus bogenoemde van die hart.

 Moet darem in alle billikheid byvoeg niks wat ek nog iewers ‘n Mandela-huldeblyk onder oë gehad het, kom by die voetwerk van predikantekennis wat ‘n keer ‘n gemeenskaplike vriend begrawe het nie.  Soos hy sy boodskap omgebuig het tot so ‘n “ego-tripping eulogy” soos dié waarna Jack White verwys, verg aansienlike vernuf.

 En om in anekdote op anekdote oor jou verhouding met iemand telkens as die held na vore te kom, is ‘n kuns wat nie elkeen beskore is nie.

 Hoop maar ons bly meer sulke  “self-reverential tributes” gespaar in die dae voor ons, wat – so wil ek voorspel – nog ‘n goeie sarsie” persoonlike herinneringe” na vore gaan bring.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page