Ons matrieks van 1957 – wel, diegene wat oor is en diegene wat kan – trek Saterdag op Potchefstroom saam vir ons goue jubileum plus vyf. Dis nou 55 jaar sedert ons, soos Volkies se skoollied lui, “die wêreld in” ge-”swerf” het.
Ek is ‘n getroue reünieganger. Tokkie beweer ek sal die reünie van my voorskoolse speelgroepie nie mis nie. Hierdie keer is ek egter afwesig. Melkbos is eenvoudig te ver van Potchefstroom. Reiskoste is te duur. Ander redes bestaan ook, maar hulle was seker makliker oorbrugbaar.
Hoeveel van die 57-klas gaan opdaag, is ‘n ope vraag. Die wiel bly draai. Die Byl bly kap in ons bos. Minstens twee van die stralende gesigte op die omslag van ons jubileumblad in 2007 is nie meer daar nie – albei in die laaste vyf jaar in motorongelukke heen, eienaardig genoeg. Ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al langboompies toe.
Van ons maats sukkel met hul gesondheid. Party verwerk slegte nuus wat onlangs oor hul pad gekom het.
Nie amal het ewe veel materiële voorspoed beleef nie.
Nietemin, in die gees sal ek wel Saterdag met die res saamlag, saamgesels en saam sentimentele herinneringe opdiep. Ek gaan die ginnegapery van die 70-plussers mis: “Onthou jy nog dit? Onthou jy nog dat?” Natuurlik gaan ek my stilletjies verknies terwyl ek, wyntjie in die hand, ver daarvandaan oor die Atlantiese Oseaan staar.
Ná 55 jaar bestaan, wat Volkies betref, immers steeds een groot waarheid in my lewe, soos die skoollied ook verkondig: “‘n Brokkie van my hart bly hier.” ‘n Brokkie van my hart is in die 50’s tussen die rotskoppies van die Hoëveld verloor. Vir so lank ek leef sal dit daar vasgemessel wees. Tussen die rooibakstene van die waardige ou hoofgebou. Dit is goed so.
Deesdae neig ek om na die Volkie-era nie net as ‘n snoer van los gebeure en en allerlei staaltjies te dink nie. My benadering het vanself meer filosofies geraak. Ek wil aan die vyftigs ‘n oorkoepelende tema probeer haak. Dalk was dit die laaste jare van die Groot Onskuld? As jy lees en hoor van moderne kinders se flirtasies met seks, dwelms en drank skud jy jou kop.
Ons was regte ouderwetse bloedjies – bra oppervlakkige vryers wat handjies gehou, briefies uitgeruil en periodiek ‘n soentjie gegaps het (of verraai ek met die belydenis net my eie naïwiteit?) Eers in die volgende vyfjaarsiklus het skoolmeisies, na my ervaring, “in die moeilikheid” begin raak. En het ek toe ook eers begin agterkom dat nie alle seksuele oriëntasies so eenvoudig soos my eie is nie.
Ons matrieks het heerlik vir “stout” kwinkslae gegiggel soos dat die meisies nie harder kan sing nie “omdat hul borsies te klein is” (nie heeltemal waar nie te oordeel aan bepaalde lywe in die klas!) of dat een van die seuns “’n opgestopte voël” het (hy had wel die een of ander ornitologiese eksemplaar in sy kamer). In vrymoediger taal sou ons egter nie waag om met die ander geslag te kommunikeer nie.
Klink dit vervelig? Mense, ons het tog wel ook ‘n Tyd van Ontdekking beleef. Ons het die ekstase van eerste liefdes leer ken. Die “Young love” waarvan Tab Hunter so mooi gesing het: “Young love, first love, it’s filled with true emotion….” Daardie liedjie was, interessant genoeg, ook, soos ons, ‘n 1957-model.
Ons het die opwinding van mededinging op die sportveld ervaar; die bruising van adrenalien in ons are, die soet smaak van wen en presteer, die stimulering van selfgelding (al was dit soms in plein dwarsheid) …
Ons het ook die waarde van vriendskap en hegte verhoudings leer ken – soos in die offerdaad van ‘n betraande ou wat ‘n meisie plegtig vir sy kamermaat teruggee omdat “sy vir jou liewer is”.
Lewenswaardes is by ons vasgemessel wat nou nog bakens is. Skitterende onderwysers, stabiele ouerhuise, ‘n lewende naelstring met die Kerk, ingedrilde dissipline, selfs die lat op sy tyd, het ons help vorm.
Hoe bevoorreg was ons nie! Tussen al die lag, die kwinkslae, die uitruil van staaltjies, die verlange na afwesige maats, behoort dalk by so ‘n reünie ook ‘n sessie ingeruim te word om net in stilte opreg dankbaar te wees – of is die ou gryse nou sommer verspot?
Comments