Patson, staatmaker-arbeider in Sabiepark, by die nuwe swembadseil.
Nee, ek gaan liewer nie die grappie waag dat hierdie die loodsing is van ‘n Van Deventer-hulpfonds of iets van daardie aard nie.
Het op Tukkies met ‘n ligsinnige opmerking in daardie trant my voet in ‘n ding gesit. Dit was na ‘n ongeluk met my eerste vuurwa, ‘n onversekerde Peugeot 203 van 1953. Op ‘n dag vra ek vir Naas du Toit: “Het jy al bygedra tot die Van Deventer-hulpfonds?” Hy begin stamelend verduidelik van sakgeld wat nog moet kom.
Later oorhandig my koshuismaats – ai, wonderlike ou Kollege – aan my ‘n koevert vol note. Glo nie jy sou Naas ooit kon oortuig dat ek salig onbewus was van so ‘n insameling nie!
Ewenwel, die teenspoede van die wintervakansie het bly opstapel tot die formidabele lysie wat ek met die samewerking van ons huis se klerk van werke, vroulief Tokkie, vir algemene insae hier publiseer.
Die lys begin met ons Melkbosse posbus wat vasgeroes het. Terwyl ons in Sabiepark op pos wag, spook allerlei mense toe hier om die deur oop te ruk en pluk. Ten einde laaste moes die slot vervang word. Dit kos R91,00 wat, vreemd genoeg as jy eienaarskap in aanmerking neem, deur ons, die huurders, opgedok moes word. Daarna volg dinge plus-minus chronologies.
Sabiepark:
Herstel en diens van die Junkers-gaswarmwatertoestelle
Twee nuwe voorbande vir die bos-Honda
Raps die modderskerm van mnr. Mathebula se Mazda 323 by parkeerplek op Hazyview;
Herstel van rokende gas-vrieskas en daarna ook die gas-yskas;
Nuwe ruitveërrubbers vir die Honda;
Nuwe wieletjies vir die skuifdeur;
Vervang stukkende stoorkamerdeur;
Herstel stukkende toilet;
Buitelig se skakelaar raak onklaar;
Vervang swembadseil en stuur die nuwe binne drie terug Nelspruit toe omdat water deursyfer by die lasplek;
Twee nuwe beddens vir gastekamer;
Vier eetkamerstoele se bamboes skeur onherstelbaar;
Houtstoepstoel gee die gees;
Brandblussers moet versien word;
Ander eiendom oorstroom toe pyp in kombuis bars;
Drarekenaar deur virus besmet;
Kombuislig moet vervang word.
Terug op Melkbosstrand:
Motor erg deur nat teer besmeer toe vriend gaan ry om battery te laai;
Rekenaar verloor sein;
Voordeurklokkie deur miere ingeneem;
Mikrogolfoond daarmee heen;
DSTV-sein onopspoorbaar op TV;
Musieksentrum in woonkamer bring net krapgeluide voort;
Musieksentrum in slaapkamer maak g’n geluid nie;
Ses gloeilampe moet vervang word;
Faksmasjien se ink raak op;
Bure se prominente nuwe wasgoeddraad voor ons woonkamer – hoër heining dringend nodig;
Voorportaal oorstroom (amper ‘n GROOT ramp as ons nie terug was nie).
Ten slotte, hoop ek, breek ‘n sleutel toe boonop in ‘n buitedeur se slot af.
Wat dit als gekos het? Weet nie presies nie. Toe ons by R10 000 kom, het ons opgehou tel.
Maar Melkbos en Sabiepark – hulle bly maar melk en heuning. En die Van Deventers? Hulle mag nie kla nie. Klipperjies in die skoen of te nie, hulle bly onverdiend geseënd.
Eina maar toemaar.
Comentarios