Die wals is koning, André Rieu is die walskoning, ‘n Rieu-konsert is koningskos vir die hart. Ek tik hierdie woorde terwyl my eie hart steeds opgewonde in driemaat-klop ná gister se feeskonsert by die Grand West in Goodwood, Kaapstad.
Vooraf het ek belowe om te laat weet of hierdie stemmige amper-sewentigjarige toe ook saam gewieg het. Die waarheid is dat ek het – teen my natuurlike inklinasie van terughoudendheid in, maar darem eers teen die late, hoor, toe Rieu en sy skitterende musiekmakers nou werklik die krane begin oopdraai en die ou gunstelinge in keurspel op keurspel op die meegevoerde gehoor laat neergiet.
Johann Strauss, Lehar, Bizet, Mozart, Verdi, Tsjaikofski, Lloyd-Webber, Michael Jackson, al die ou en moderne meesters en vele meer se top-treffers, vrolik, guitig en meesleurend uitgevoer – die rojale toegifte hou nie op nie, en later moet selfs die krakerigste litte ontdooi.
“Even the ranks of Tuscany could scarce forebear to cheer…”
Die weergalose Rieu-resep is welbekend by al sy miljoene aanhangers wêreldwyd. Dit is die klank van sy musiek met die sterk Weense inslag, die kwaliteit-kunstenaars, die visuele genot van n prentjiemooi verhoog met mooi mense in mooi klere, die gemoedelikheid, hartlikheid en eie klaarblyklike genot van dirigent en orkes, die algemene “ambience”, die intense graad van meelewing wat taks om taks uitgelok word…
Ja, toe Strauss se immergroen Blou Donou polsend opklink, toe wals dit in die paadjies, en toe Rieu sy gehoor met Sarie Marais verras, toe dreun dit soos die Kapenaars – Stormers of te nie! – saam na die “ou Transvaal” verlang….
Maar André Rieu stagneer nooit. Uit sy stal kom altyd ook iets nuuts. ‘n Nuwigheid spesiaal vir Suid-Afrika was die klokhelder stem van die die Kaapse student Kimmy Skota, “swart diamant” (soos hy haar noem). Toe Skota in tradisionele Afrika-gewaad My African Dream sing, was Rieu se oë vol trane. Ook in die gehoor is snesies uitgehaal.
Maar haar gevoelvolle Ave Maria en Wiegeliedjie (Thula, thula …in Xhosa en Afrikaans) was amper vir dié ou gryse aangrypender.
Die klein kamee van die Bloemfonteinse kinderkoor in netjiese spierwit in die uitvoering van Jackson se Heal the World het ook die steeds lojale Vrystaatse hart laat warm klop.
Van die orkes-lede wat deur Rieu uitgesonder is vir solo’s – “hulle is almal talentvol” – was die veelsydige Manu Konings, wat pas deur ’n stryd teen borskanker is, se bydraes baie spesiaal, veral toe sy die doedelsak uithaal vir Amazing Grace. In die voorste ry is arms in aanbidding opgehef.
So ‘n eksieperfeksie-konsert, met van die verhoog af net vlekkelose professionaliteit (die konsert het onder meer op die minuut om 15:00 met die tradisionele “grande entrance” begin), stel uiteraad aan die gehoor ook eise. Hoe jammer was dit dus nie dat hope lank na die pouse steeds traak-my-nie-agtig bly instroom het met hul kardoese eet- en drinkgoed in die hand. Slegte Suid-Afrikaanse maniere?
En die kleredrag! In die teenwoordigheid van al die elegante strikdasse, aandpakke en manjifieke ontweroers-balrokke op die verhoog (met net genoeg gleufie om nie die aandag van die musiek af te trek nie!) wonder ‘n mens of jannas en tekkies nie selfs vir ‘n Sondagmiddag-gehoor darem ietwat te informeel is nie.
Een verrassing vir die uwe was die “reünie”-element in die gehoor. Net in blok R, waar ons gesit het, was oud-Bloemfonteiners, ‘n ou skoolmaat en mede-Melkbossers. In die blok agter ons was ‘n vorige buurman uit ons Bloemfonteindae. Toe ons uitstap, kry ek ‘n naamgenoot-oud-LP en ‘n oud-kollega. Tussen die duisende vreemde gesigte was hierdie “ken-mekaar-element” ‘n merkwaardigheid waaroor ek graag later vollediger hier sal berig.
Comments