top of page
  • Uitmelkbos

EEN REUSE-KRAAMSAAL




Van vroeg November af vir ‘n maand of wat word die ganse Kruger-wildtuin ‘n reuse-kraamsaal. Hoeveel klein rooibokkies van hier onder by Berg-en-Dal tot bo by Pafuri gebore word, kan ‘n mens net raai. My raaiskoot sou wees: 20 000, 30 000. Dalk tas ek mis – dit kan selfs meer wees.

In elk geval, waaroor niemand kan stry nie is dat jaarlikse vernuwing van die rooibok-bevolking die grootste massa-uitbreiding van enige spesie enige plek moet wees – wat die ooievaars seker ‘n sug van verligting laat slaak dat hulle nie, soos mensebabatjies kamma-kamma, per “huurvlug” afgelewer hoef te word nie. Die stomme voëls sou nooit rus kry nie.

Die resultaat van die plate klein rooibokkies hier, daar en oweral is van die wonderlikste toneeltjies wat die somerbesoeker aan die Wildtuin op kan reken, en in my boekie veel meer werd as net die gekwispel van ‘n leeustert doer in die verte of n “luiperd” hoog in ‘n boom waarvan die kolle dalk net doodgewone skaduwees is.

Veral in Desember stop ek dikwels by rooibokkies, soms tot die ergernis van die “Vyf Grotes-garde” wat agter my voet in die hoek die park deurkruis op soek na leeu, luiperd., renoster. olifant en buffel.

“Wat sien jy?”

“Rooibokkies?”

“Rooibokkies – gmf!”

‘n Troppie van 200 rooibokkies met sy goed georganiseerde “kindergarten” is egter een van die mooi gesigte van die Wildtuin hierdie tyd van die jaar, soos die sterkbos wat begin blom en die vlaktevlam wat die veld amper letterlik “aan die brand steek” met sy rooi.

Hou ‘n bietjie dop hoe die kordate kleintjies saambondel, hetsy in hopies spits oortjies plat op die grond of in dartelende groepies wat kompleet lyk of hulle “ring-a-ring-a-rosy” speel. Hou ook maar dop: ma word amper net opgesoek as die behoefte aan melk die bokkie oorweldig. Anders word die maatjies se geselskap verkies.

‘n Skielike opwelling van moeder-afhanklikheid kan net een ander ding beteken, naamlik dat ‘n roofdier in die kontrei is. Veral as die ooitjies soos op ‘n militere parade almal spits in een rigting tuur, met spiertjies wat in hul sye aanhoudend saamtrek, kan jy weet dat gevaar dreig. Begin hulle in ‘n koor te sis, kan jy maar jou kamera opskroef. Dan kom daar aksie!

Ek wonder dikwels hoekom juis so ‘n mooi, elegante bokkie nou juis die primêre prooi moet wees van leeus, luiperds, krokododille, wildehonde en hiënas – ja inderdaad, vergeet die storie dat daardie onwelriekende skuinsrûe net aasdiere sou wees. Dit is maar van daardie onnaspeurbare weë van die natuur.

Gelukkig darem is rooikbokkies allesbehalwe sagte teikens. As ‘n trop rooibokke eers begin rondspring om die vyand te verwar, kan dit enige roofdier van stryk bring. Rooibokkies kan tot 9 meter ver spring en 2,5 meter hoog. Ek het ‘n oorhaastige span leeus op jag al sleg sien mistas na sulke vlieënde bokkies. Dan voel ek om luid te roep: Hoera!

In Sabiepark het ek een Sondagoggend van kerk in Skukuza af gekom en naby my huis moes stilhou toe ‘n troppie van seker oor die 100 hulle opraap en een vir een oor die pad spring voordat hulle proesende in die bosse verdwyn. Ek was meegevoer deur so ‘n demonstrasie van akrobatiese sinchronisasie.

‘n Jaar of tien gelede het Mercedes in ‘n kleur gekom met die naam “impala” – die Engels, of eintlik die Zoeloe, vir die rooibokkie. Die storie wat ek gehoor het, is dat ‘n grootbaas van Daimler Benz op besoek aan die Wildtuin so begeesterd geraak het met die sierlikheid van die rooibok dat hy opsluit een van sy firma se kleure-verskeidenheid na die bokkie wou noem – al was Mercedes se “impala”-kleur ook ver van rooi.

Ek onthou daar was ook in ‘n stadium ‘n Chevrolet Impala. Sy storie ken ek egter nie.

Maar hier is ‘n feit soos ‘n rooibokram. Dit is dat Oeganda se hoofstad, Kampala, na die impala heet. Die bokkie kom naamlik nie net hier voor nie. In die savannas en digte bosveld van Kenia, Tanzanië, Mosambiek, noord-Namibië,, Botswana, Zambië, Zimbabwe, suid-Angola en Oeganda is hulle ook deel van die landskap.

As ek die skare klein bokkies Desembermaande so sien, wonder ek altyd oor nog twee dinge. Die eerste – en dit in groot nederigheid, hoor – is waarom ‘n klein bokkie pas na geboorte al so kan huppel en spring terwyl ‘n mensebabatjie maar ‘n regte ou papperdtjie is.

Die tweede is oor die storie dat n rooibok-ooitjie in slegte tye geboorte tot ‘n maand lank kan terughou. Sovele kenners het al vir my gese dis net ‘n mite, maar dan is dit tog interessant dat sekere publikasies (ook Wikipedia op die internet) nie skroom om die mite te versprei nie.

Hoe sal ek nou weet – ek is maar ‘n leek op die gebied van die natuur. Al wat ek weet, is dat daardie storie, mite of nie, nogal iets bydra tot die rooibok-romantiek.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page