top of page
  • Uitmelkbos

EEN MAANLIG-AAND …



Kan nie volmondiger met Mahatma Gandhi saamstem nie wat die volgende diep woorde op skrif gestel het: “When I admire the wonder of a sunset or the beauty of the moon, my soul expands in worship of the Creator.”

Psalm 8:3 en 4 kry dan sommer weer vir ‘n mens nuwe betekenis: “ As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?…”

Sielsaangrypend ja. Maar dan is volmaan vir my ook … wel … ‘n soort persoonlike raaiselmaan.

Terwyl die ronde maan Woensdagaand aan die oosterkim al hoe hoër kruip en die skouspel van helder lig en donker boomstamme hom aangrypend mooi ontvou, het daardie ou-ou raaisel my opnuut radeloos gelaat.

Hoe neem jy daardie maan-jifieke toneel af dat jy die volle glorie en betowering deur jou kameralens vasvang?

Ek en Tokkie het seker al 30 volmane in die bos beleef – ten minste ook ‘n halfdosyn uitsonderlike “blue moons” wanneer dit twee keer in een maand volmaan is. Winter of somer, kombineer die gedugte Bosveldbome en die helder maan om skilderagtige patrone in die lug of op die grond te trek.

Elke keer gryp ek in die een of ander stadium na die Canon. Dan probeer ek hierdie lens, dan die ander een. Elke keer is ek diep teleurgesteld met die resultate. Op sommige foto’s is net die ronde bal – skouspelagtig genoeg maar ‘n halwe prentjie. Op die ander is die bome te helder deur die kamera se flits verlig en die maan, die hoofkarakter, ‘n klein nietigheidjie doer ver.

Wil ‘n kenner nie vir hierdie leek mooi en in eenvoudige, bevatlike taal verduidelik hoe maak ‘n mens nie? Of is maanskyn in die bos een van daardie onbereikbaarhede wat die mens en sy toerusting nooit op doek, film of die skerm sal kan weergee soos dit sy hart aanpreek nie?

Oor Woensdagaand se se volmaan nog twee opmerkings:

Een is dat dit op die Van Deventers ‘n impak had soos nog nooit tevore nie. Tokkie is doodernstig slapenstyd by die agterdeur uit om die “stoeplig te gaan afsit”. Ek was insgelyks uitgevang. Was die maan voorheen ewe helder deur daardie skuifdeur? Was die ruite hierdie keer dalk skoner. Het die jare wat aanstap, in ons waarneming ‘n dimensie gebring wat voorheen ontbreek het?

Ten tweede: Is dit nie wonderlik nie hoe die maan stelselmatig tot so ‘n hoogtepunt van nagtelike ligglans opbou en dan meteens weer in sy dop terugkruip – so asof hy vir die sterrehemel wil sê: “Ek het my beurt gehad, vat jy nou weer oor!”

Gisteraand, twee aande ná volmaan, was die sterre vir my meer, nader, skitterender as wat ek kan onthou. Bo ons koppe was ‘n naghemel wat jou wil nooi om jou arms uit te strek: Om vir jou ‘n ster te pluk, maar ook in aanbidding oor sulke grootsheid wat jy. nietige mens, bevoorreg is om te bewonder en geniet.

Hoekom meer bruide nie volmaanaande in die bos kies vir hul droomtroues nie, weet ek nie. So kan hulle mos die skittering van liefde in hul oë en die skittering van die diamante(e) in die verloofring aan hul ringvingers volmaak afrond in ‘n romantiek wat woorde so min kan beskryf as wat HvD se vinger op die Canon se sluiter dit afgeneem kan kry.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page