top of page
  • Uitmelkbos

EEN AAND IN LONDEN

Johan en sy wen-kar,.

My storie gaan oor ‘n herinnering aan my goeie kollega, vertroueling en gewaardeerde gespreksgenoot Chris Moolman (79) wat vanoggend oorlede is. Om by die storie te kom, moet ek eers ‘n draai maak by ’n motorwedstryd van die Vrystaatse Nasionale Party, ter viering van dié se vyf en twintigste bewindsjaar.

’n Deftige maroen 1973-Dodge SE met ’n ligbruin vinieldak was die eerste prys. Deelnemers moes ’n limeriek voltooi wat soos volg lui:

Vir vyf-en-twintig jaar ’n wakker Party wat gereeld die Opposisie met mening kasty – Nasionaal is sy naam, hy kan baie hard slaan taradam, taradam, taradam.

Ek skryf toe in op my vrou, Tokkie, se naam. My slotreël (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!” Dit wen vir haar die Dodge.

Met die maroen Dodge veilig in ons motorhuis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, word ek aangestel as eerste nuusredakteur van Beeld, die te stigte Naspers-dagblad in Johannesburg. Begin April groet ek Die Volksblad en vertrek dadelik op ’n studiereis van vyf weke na Londen om my voor te berei vir my nuwe taak.

Kollega Chris verteenwoordig daardie tyd die Nasperskoerante in die Londense kantoor. Een aand het ons groot planne vir ‘n “manne-aand” by Soho se kuierplekkies. Hy daag by my in die Charing Cross-hotel op met die vreemde vraag: “Wat gaan jy met die kar doen wat jy gewen het?”

“Nee, ons ry hom al,” antwoord ek.

“Albei?”

Eers toe snap ek daar is weer goeie nuus. Dié keer was die wenmotor ’n 1974-Valiant Charger, die eerste prys in ’n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op my seun Johan se naam ingeskryf.Die driejarige knaap stap toe met die tweedeur-Charger weg en op die foto (hierby) lyk hy nogal heel in sy noppies agter die stuurwiel.

Aan my en Molie (soos ek Chris genoem het) se “kuier-aand” is meteens ‘n ekstra dimensie gevoeg, ‘n Dop of twee op die Charger was sekerlik nie buite orde nie.

Om te wen, moes ’n mens die beste rede gee waarom jy graag die betrokke motor sou wou besit. Ek het (namens Johan) in rympievorm geantwoord: Hy’s vir die oog ’n fees en so sterk soos ’n bees, Dis waarlik ’n spogwa om trots op te wees!

In Naspers-koerante was daarna berigte met opskrifte soos: “Twee motors gewen binne ses maande!” en “Koerantman wen twee motors”. In die berigte is daarvan gewag gemaak dat die twee nuwe motors saam meer as R9 000 werd is. Goeie ou dae!

Hoe ook al, ek het nog nooit weer soveel geld vir so bietjie skryfwerk verdien nie.

Dikwels moes ek daarna hoor hoe “gelukkig” ek dan is. Nou nie juis die toonbeeld van nederigheid nie, was my respons altyd dié van Gary Player oor sy suksesse op die gholfbaan: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page