top of page
  • Uitmelkbos

E-POS NA DIE HEMEL


Ek wil ‘n e-pos stuur, maar is onseker oor die adres. Moontlik sal ek die teiken tref met iets soos mikedevries@hemel.co.heelal.

Mike de Vries was rektor van Maties en direksielid van Naspers in die 90’s. Toe ek in 1994 die 47ste wêreldkongres van koerante in Wenen, Oostenryk, gaan bywoon het, het Mike vir my en Tokkie ‘n toerplan in fyne detail uitgewerk.

Ons is via die Romantische Strasse in Duitsland (met tradisionele dorpies soos Rothenburg) na die wonderskone Salzkammergut in Oostenryk. In Traunkirchen was ons tuis in die Seepension Zimmermann. Mike het vir ons presies beduie hoe om daar te kom.

Draai hier links, hier regs …

Hy het ook die naam van ons gasheer verskaf, en groete gestuur, wat met welaangename verrassing ontvang is. “O, herr De Vries … “

Oostenryk was Mike se geliefkoosde reiswêreld. Hy het dit soos sy handpalm geken.

Ek is aan die 1994-reis (met ‘n geleende Audi wat ek by die fabriek in Ingolstadt gaan optel het) herinner deur ‘n e-pos van my oud-kollega Goëthe (Ollie) Olwagen met 28 pragfoto’s uit Oostenryk terwyl die innige klanke van Quand le soleil dit bonjour aux montagnes (As die son die berge groet) die siel voed.

Ek kon Tokkie n.a.v. ‘n spyskaart in my foto-album nommer 39 herinner aan wat ons die aand van 30 Mei 1994 in die Hotel Inter-Continental in Wenen vir aandete gehad het. Die beesvleis was “Girardi Style” en die pannekoekies is met suurkersies opgedis. Ek kon haar ook herinner aan ‘n swierige dinee in Wenen se beroemde Rathaus, meesleurende Strauss-konserte en wat nog.

Ek sou haar kon herinner aan ons middernag-kaalbas-kaperjolle in die binnenshuise swembad van ons gasthaus in Zell-am-See. Ons was toe amper twee dekades jonger … Die volgende oggend is ons oor ‘n besneeude Grossglocknerpas in die Alpe, verby duiselingwekkende hoogtes en noutes soos die Hexenküche – gebruik maar die verbeelding.

Van die dorpies op ons roete had onvergeetlike name soos Heiligenblut. Die natuur was onbeskryflik groots.

Waar was ons nie oral nie? Ook in Inssbruck, onthou ek, en natuurlik Salzburg – die stad van Mozart. Oral het Mike paadjies, kuierplekke en oornagplekke in besonderhede aanbeveel.

Hemel, Mike, vanaand is ek opnuut dankbaar. Hoop maar waar jy is, is vir jou ewe sielsaangrypend as die Oostenryk wat jy so lief gehad het en so volledig aan my en Tokkie bekend gestel het.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page