top of page
Uitmelkbos

DURE MANIERE

‘n Joernalis se gevoeligheid vir sy lesers en vir dinge wat hul hartsnare sal aanraak, verklap sy of haar stoffasie. Party het daardie spesiale aanklank. Ander het dit eenvoudig nie. Een van my generasie wat dit gehad het, is Johan van Wyk. Een van die huidige generasie wat hiermee uitmunt, is Dana Snyman.

Sy Burger-rubriek in netjiese Engels om Engelse oor die vingers te tik oor hul onwilligheid om Afrikaans te praat, was weer ‘n Dana-treffer. Ditsem, Dana, hoor jy uit alle oorde. Ander rubriekskrywers klim ook in, sien ek. Dis ‘n groot kompliment. Gewoonlik wil elkeen sy of haar eie ding op sy of haar eie manier doen.

Dana slaan natuurlik die spyker kadoef op die kop – maar ek wonder of ons Afrikaanspraters nie gerus maar in ‘n groter mate hand in eie boesem kan steek nie. Is die hele skeefgetrekte praatpatroon in ons land nie maar grotendeels ons eie skuld nie? Ons laat ons Engelse landgenote immers begaan in hul dwarsheid. Ons slaan alewig oor in hul taal. Ons laat toe dat die teenwoordigheid van een van hulle ons so intimideer dat ons met mekaar “is” en “are” en “have” en “has” selfs wanneer dit nie regtig nodig is nie.

Mense, ons goeie maniere/bedagsaamheid/hoflikheid kos ons duur. Dit word as ‘n kruiperige soort minderwaardigheid beskou. Dit word opportunisties misbruik en uitgebuit om ons “hairy backs” op ons plek te hou.

Wens iemand wil ‘n kampanje begin om die onding uit te roei. Ons moet vasbyt en Afrikaans bly praat met mense wat Afrikaans behoort te verstaan. Ons moet Afrikaanse gesprekke rustig in Afrikaans bly voer as die meerderheid in die geselskap Afrikaans verkies. Ons sal sien hoe vinnig gaan ons die styfste van stywe bolippe skeef laat opkyk.

Op my lysie is vyf of ses voorkeurkandidate wat ek graag sal wil skud deur nie, soos hulle al gewoond geraak het, my beste Engelse voet voor te sit as hulle in die nabyheid is nie. Maar, alla kragtie, wat is dit dan dat ek so huiwerig is om hierdie stuk broodnodige “regstellende aksie” dadelik aan te pak?

Dis pure vrotsigheid waaroor ek my in my binnekamer skaam, vrees ek.

Naskrif: In private e-pos-korrespondensie het verskeie vriende hulle die laaste paar dae verkneukel oor die lang lys Afrikaanse woorde wat ‘n ding pront, kort en kragtig, skerp en treffend kan sê terwyl jy in Engels sal moet rondtas na ‘n omhaal van woorde om naastenby dieselfde oor te dra. Juweeltjies het na vore gekom. Volgende blog gaan weer oor ons besonderse taal, waarop ons gerus maar trotser mag wees as wat uit ons kop-onderstebo-igheid blyk.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page