top of page
  • Uitmelkbos

DUISEND DANKIES

As ek oor die word “dankie” skryf, sou ek dit graag so eenvoudig-opreg wil doen soos my tydgenoot (grysgenoot) Lance James in sy immergroen-trefferliedjie: “Dankie vir hierdie skone more/dankie vir hierdie nuwe dag/ dankie dat U oor my gewaak het deur die donker nag.”

Lance gaan dan voort met ‘n lys treffende dankies: vir al die goeie vriende, vir elke boom en blom, vir al die die seëninge wat na hom toe kom; vir elke kinderlaggie, vir elke sonnestraal, dat hy sy weg terugvind waar hy ookal dwaal, en wat daarop volg.

Of ek sou graag so wou jubel soos Lied 464 in die Liedboek: “O, Heer My God, as ek in eerbied wonder”, veral in die koor: “Dan moet ek juig, my redder en my God ….. “ Attie van der Colff, befaamde omdigter van Linden, bereik in hierdie meesleurende lied hoogtes met heerlike digterlike Afrikaans.

My oud-kollega Johan van Wyk het in ‘n wonderlike rubriek oor plaasbegrafnisse destyds in Die Volksblad geskryf hoe mooi Lied 464 klink terwyl “blink waterstrome oor die mosbegroeide keerwalle van die rivier gly, die Bitter-Karoo op die horison goudgeel bot ná die vroeë lentereën en lammerskaap steunend dik in die opslag lê”.

Synde ‘n dorpsjapie sal my tot-siens-diens nie ‘n soortgelyke landelike karakter kan hê nie, maar sing Lied 464 tog asseblief ook daar. Sing die koor met forsheid en die volume vol oop!

Liedere (en gedigte) met dankie-klankies is volop in elke taal. Van stille dankbaarheid tot uitbundige betuigings van dié prysenswaardige gemoedstoestand, van skietgebedjies tot openbare orasies, inspireer kunstenaars deur die eeue heen.

Dankbaarheid teenoor die Vader, teenoor ouers, onderwysers, kollegas, vriende, huweliksmaats – enige vorm van dankbaarheid word besing. Die sangeres Dido se kenwysie is byvoorbeeld die Engelse weergawe van dankie, haar lied “Thank you”, opgedra aan ‘n gewese minnaar: “ I want to thank you for giving me the best day of my life. Oh just to be with you is having the best day of my life” Dit was heelbo aan die treffersparade in Amerika en Engeland rondom 2000.

Dankie-liedjies, dankie-versies en dankie-kaartjies vir elke denkbare geleentheid word aangetref, van huwelike tot begrafnisse (en moenie die rol van blomme as boodskappers van dankbaarheid vergeet nie!)

Een van die mees besonderse dankie-sê-geleenthede in die ganse wêreld is natuurlik die Amerikaanse “Thanksgiving day” (vanjaar op Donderdag 24 November), ‘n vakansiedag met ‘n godsdienstige, historiese en kulturele inslag. Die pelgrimvaders word vereer, maar ook helde uit vorige generasies, almal wat vir volk en vaderland die lewe afgelê het en ontslape geliefdes. Die oë word opgeslaan uit dankbaarheid oor die gawes van die liefde en die lewe self. Vir elke aspek van die dag bestaan liedjies, versies en kaartjies.

Omtrent almal in Amerika vier “Thanksgiving” op die een of ander manier, maar meesal, meen ek, met familie-saamtrekke rondom feestafels. Die enigste ondankbares daardie dag in die VSA is seker die derduisende kalkoene wat spesiaal geslag word!

Ons in Suid-Afrika is bra haastig om elke Amerikaanse tradisie, kultuuruiting en gewoonte ons eie te maak. Verlede Sondag was ek byvoorbeeld verstom oor al die “heksies” in gitswart, gewapen met besems, op die volksvreemde “Halloween-dag” in ons gholfdorp by Melkbos.

Hoekom begin ons nie liewer “Thanksgiving” vier nie? Dit is immers ‘n opbouende feesdag.

Dankie dat ek, ten slotte, ‘n ander gedagte oor “dankie” mag byhaal wat ek al voorheen hier en elders uitgespreek het. Dit is dat ons as klein bousteentjie aan ons taal ophou om oral en altyd vir anderstaliges “please” en “thank you” te sê. Kom ons kap daardie Engelse woorde uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê.

Diegene wat nie weet wat daardie woorde beteken nie, sal gou agterkom. Dit het ‘n vinnige eksperiment by ‘n winkelsentrum geleer toe ‘n Suid-Afrikaanse parkeerwag my “dankie” vir sy Zimbabwiese kollega vertaal. Toe hy snap, is ek met ‘n breë, hartlike glimlag beloon.

Naskrif: Hemel, hier skryf ek ‘n lang blog oor “dankie” en die kardinale punt bly onvermeld dat die woord “dankie” een van die elf is wat tot dusver deur ‘n borg by die WAT vir R5 000 eksklusief vasgemessel is.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commentaires


bottom of page