Duisend dae langs die Sabie is in die stiebeuels vir die laaste tog na die drukkers. Behoort vroeg in die lentemaand September op die rak te wees. Hiermee ‘n stukkie reklame vir die wis en die onwis. Ek veroorloof my die onbeskeidenheid om dit op my blog te sit. Slaan tog maar oor as jy dit goor vind:
Een dag in die Wildtuin kan asemrowend wees. Dink net wat “duisend dae” nie kan oplewer nie. In sy nuwe bosboek wat eersdaags verskyn, doen Hennie van Deventer, immer die joernalis, boeiend uit die Krugerwildtuin en sy hinterland verslag.
Daardie is sy hartswêreld, waar elke dag, elke ervaring, vir hom salig is. Hy vier in sy boek “duisend dae” se saligheid. “Duisend dae langs die Sabie” is geen chronologiese, dagboek-agtige terugblik nie. ‘n Volledige bos-belewenis word gebied, oorgedra met al die passie, deernis, insig en humor wat die skrywer se liefde vir die natuur deurspek.
Kuier ‘n hond uit ‘n bos met “Duisend dae”. Kry ook lughartige antwoorde op vrae soos dié:
Hoekom kan ‘n hiëna Helena, Wena of Plassie-dou heet?
Waarom beskuldig die skrywer seekoeie van hippo-konders?
Waarom laat ‘n rooibokram hom nederig voel?
Wat alles kan in die bos uit ‘n tuinslang, skoenveter of twee teelepels koffiepoeier getower word?
Maak kennis met boskarakters soos lekkerbek-Witnek, Langtand, Wille Truitjie die wille bruidjie, Koedoelief die pitjiedief, ‘n Kersvader met kolle, ‘n oorgewig lid van die Bos-joi-ballet en ‘n slakformaat-Goliat. Lag saam, pink saam ‘n traan weg.
U sal saamstem: “Duisend dae” is ‘n natuurboek duisend.
Comments