top of page
  • Uitmelkbos

DRUKKERSDUIWEL-DEBAKEL

Dit klink soos ‘n bose nagmerrie: dat iemand ‘n boek – ‘n yslike koffietafelboek – van 608 bladsye oor jare toegewyd kan navors en skryf, maar sy naam verskyn nie op die buiteblad nie weens ‘n gruwelike drukfout.

So ‘n ramp der rampe het my kollega Frikkie van Rensburg, veteraan-sportskrywer en gesiene oud-sportredakteur van Die Volksblad, pas oorgekom.Die naam van die boek is Cheetahland: 125 jaar van lief en leed. 1895-2020.

Dit is eintlik ‘n soort ensiklopedie. Soek ‘n feit oor Vrystaat-rugby en jy sal dit in hierdie gedenkwaardige magnum opus aantref.Die boek is na sy beskeie mening ‘n meesterstuk en enig in sy soort, sê die Vrystaatse Rugby-unie. Ongelukkig geld die laaste beskrywing ook die raaiselagtige afwesigheid van die outeur se naam, moet ‘n mens byvoeg.In die laaste proewe was dit daar.

Toe die die glans-buiteblad van die pers kom, was dit nêrens. Iewers tussen die hand en die mond het die pap op die grond geval.

Selfs iemand wat in sy lewe ‘n paar potjies met die sogenaamde drukkersduiwel geloop het, kan moeilik die debakel begryp. Oranjedrukkers moet seker skarlakenrooi bloos. Ook die Vrystaatse Rugby-unie is natuurlik in diepe verleentheid. Dié het ‘n apologie op sy webblad geplaas onder die opskrif “JAMMER, FRIKKIE”.

‘n Klompie spesiale uitgawes is ook gedruk met Frikkie se naam in goud. Een is by die bekendstelling aan hom oorhandig.

In die apologie verklaar die VRU voorts: “Vrystaat Rugby is verheug en uiters trots op die eerste eksemplare van die nuwe boek Cheetahland – 125 jaar se lief en leed, 1895-2020 wat pas verskyn het.

“Ongelukkig het ‘n fout in die laaste oomblikke van die proses ingeglip. Die skrywer van die boek, Frikkie Janse van Rensburg, wat ‘n leeftyd se werk en energie in die boek gestort het, se naam het op ‘n onverklaarbare manier van die voorblad “verdwyn”: dit nadat sy naam nog op die voorlaaste proewe verskyn het.

“Sy naam verskyn wel op die binneblad, talle kere in die boek en ook op die agterblad van die publikasie. Hy word voorts in ‘n volle hoofstuk erkenning gegee vir sy monumentale werk en die statistiek wat hy oor meer as vyftig jaar versamel het.

“Dit klaar gesê, bly dit ‘n groot jammerte dat sy naam nie groot op die voorblad pryk nie. Ons vra opreg om verskoning daarvoor.

“ Ons dank hom vir al sy werk oor baie jare. Die boek is na ons mening ‘n reuse-sukses danksy Frikkie en sy medewerkers, onder wie Tom Ferreira, wat die redigering behartig het”.

Iemand anders sou dalk op- en afgespring het. Die beskeie Frikkie se reaksie is filosofies: Naam of nie naam nie was dit “baie spesiaal” om ná al die harde werk en laataande se skryf die boek in sy hande vas te hou. Dit is ‘n boek danksy die spelers en ondersteuners; ook ‘n boek vir die spelers en ondersteuners. Daarmee basta.

Frikkie swaai ook sy vrou, Elsie, lof toe. Sonder haar sou hy dit nooit kon vermag nie.

Oor Frikkie het ek o.m. in my gedenkboek by my 80ste, Koerant, die volgende kwytgeraak: “As die Vrystaat ‘n Meneer Sport moet kies – iemand wat oor die langste tydperk sport in die wydste sin gedien het – is die beskeie Frikkie van Rensburg, oud-sportredakteur van Die Volksblad, ‘n uitgeknipte kandidaat.

“Die getal sportsoorte waarvan hy op nasionale en internasionale vlak verslag gedoen het, is werklik meer as wat jy op die vingers van twee hande kan tel. Dit sluit in rugby, krieket, swem, boks, stoei, fietsry, modern vyfkamp, grootkaliber-skiet, tennis, polo, gimnastiek en rolbal.

“As sportstatiskus strek sy roem tot in die buiteland. Hy het die belangrike afdeling van beriggewing ‘byna vervolmaak’, aldus Herman le Roux, veteraan-sportredakteur onder wie Frikkie sy loopbaan as sportskrywer begin het. In 1999 is hy dan ook amptelik deur die Vrystaatse Rugby-unie as sy statistikus/historikus aangestel. Oor Vrystaat- en Griekwarugby weet hy uit ‘n statistiekehoek so plus-minus alles.

”Geluk, “Mnr. Sport”. Jy verdien elke woord van lof wat jy vir hierdie grootse werk – jou derde oor Vrystaatrugby – gaan kry. Wat jy werklik nie verdien het nie, is dat jy van alle mense die slagoffer moes wees van wat nie anders nie as die drukbedryf se grootste “ligte mistykie” in 2021 bestempel moet word.

(Foto’s: Frikkie en sy boek, Frikkie en Elsie met die spesiale uitgawe met sy naam in goud voorop. Dank daarvoor aan Netwerk24.)

8 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page