Eers Thys Human, en nou Cilliers van den Berg, Andries Visage en Marius Crous – Marlene van Niekerk is werklik gelukkig met die resensente wat haar Die sneeuslaper vir die Afrikaanse koerante bespreek.
Van den Berg se resensie in Volksblad is weer van só ‘n aard dat mens dadelik wonder hoekom mens nie sy naam meer op Boekeblaaie sien nie. Die resensie is gekonsentreerd geskryf, met opvallende aandag aan formulering. Van den Berg is iemand wat nie met woorde mors nie; sy analise van Die sneeuslaper gooi die aanloklikhede én ingewikkeldhede van dié bundel vir mens oop.
Van Niekerk is nie vir hom iemand van wie die leser moet terugdeins nie – tussen die filosofering en woordspel deur sien hy die ontroering en die vernuf van die prosateur raak.
Ek het my afgevra presies wat dit is wat Van den Berg so ‘n goeie resensent maak. Gewis die peil wat hy handhaaf met analise en insig in skrywerskundigheid, maar tog ook iets anders. Ek het die ou toets van die subredakteur op sy bespreking probeer toepas: Hoeveel van wat hy skryf kan weggesny word sonder om die strekking te skaad?
Niks, is die antwoord. Jy sou die intro en die slotparagraaf kon weglaat, maar dan verloor die resensie sy implisiete evaluasie: Hierdie boek is só intrigerend en goed dat mens dit móét koop en lees.
Maar kan dit die enigste maatstaf wees vir ‘n goeie resensie?
Wanneer jy Andries Visagie se bespreking in Die Burger van dieselfde bundel lees, besef jy wel dat daar ‘n dimensie is wat in sy (Van den Berg se) resensie ontbreek het. Mens neem aan dat hy negatiewe kritiek sou uitspreek indien hy enige had, maar dit is opvallend dat hy niks opper nie.
Visagie sluit in sy kritiese opmerkings aan by dinge wat reeds destyds genoem is oor Die vrou wat haar verkyker vergeet het, naamlik Van Niekerk se versotheid op Neerlandismes. Van den Berg noem dít of die probleme wat sommige lesers mag ondervind daarmee glad nie, en ook nie die feit dat dit konsentrasie verg om haar skryfwêreld binne te dring nie. Marlene van Niekerk skryf nie verstrooiingslektuur nie.
Andries Visage spreek hom wel daaroor uit, asook oor die elitistiese (my woord) plasing van die verhale: “… daar (is) baie Amsterdam en baie Stellenbosch, maar van plekke soos Karatara en Khayelitscha lees jy feitlik niks nie.” Hoe geldig só ‘n uitspraak is, is nie iets waaroor ek my wil uitlaat nie; wat wel gesê kan word, is dat Visagie duidelik ‘n gesprek oor Die sneeuslaper aan die gang wil sit.
Visagie se resensie het ‘n heeltemal ander soort aanpak as dié van Van den Berg. Hy bekyk die bundel van nader, in meer detail, en ondanks sy kritiese opmerkings deins hy nie terug van ‘n duidelik uitgesproke evaluasie nie: “ …. ‘n besonder sterk bundel”, wat “’n onmisbare bydrae tot die gesprek oor die etiese rol van die kunstenaar in die samelewing” maak.
Sowel Van den Berg as Visagie laat hulle uit oor die metafiksionele besinning oor die literatuur wat mens by Van Niekerk vind. Visagie staan uitvoeriger stil by elke verhaal in die bundel en wil ook Die sneeuslaper binne die konteks van Van Niekerk se oeuvre plaas.
Daar is verskeie klein dingetjies in Visagie se resensie wat opgeval het, buiten nou sy poging om ‘n debat oor die etiese rol van die skrywer in die samelewing aan die gang te sit. Die een wat my laat regop sit het, is: “Alles dui daarop dat Van Niekerk haar gereed maak om met mening na die poësie terug te keer.”
Ek het die teks gelees van Die verkorte raklewe van Anastasia W (wat op Aardklop opgevoer is), het ook sulke seine dáár raakgesien.
Marius Crous skryf met dieselfde blyke van respek vir die skrywer Marlene van Niekerk as Van den Berg en Visagie, maar sy aanslag is opvallend nader aan koerant-resensie as wat dit aan ‘n akademiese verhandeling in die kleine is.
Hy sien die dinge raak wat Van den Berg en Visagie genoem het, en soms uitvoerig bespreek het, maar hy is meer geneig om iets te noem en aan te beweeg. Sekerlik sal koerantlesers wat onder groot druk soggens die koerant deurwerk voordat hulle met hul dagtaak begin, Crous se soort bespreking, met korter paragrawe en baie tipografiese wit, makliker vind om te lees as dié van Visagie.
Vir die student wat hom in Marlene van Niekerk se skryfwerk verdiep, is daar tog ook genoeg stof tot nadenke in Crous se resensie om die bewaar daarvan saam met dié van Van den Berg, Visagie en Human vir latere verwysing te regverdig.
***
Terug by die intro en outro van Van den Berg se resensie. Dit is ‘n ou resensentetruuk, naamlik om die leser nuuskierig te maak met ‘n vraag en dan te antwoord dat hy/sy die boek moet gaan lees om die antwoord te vind.
Maar oordaad daarvan kan lelik boemerang. In Susanne Harper se bespreking in Beeld van Dwaalpoort (van Alexander Strachan) sluit sy ‘n andersins heel interessante resensie af met vyf vrae wat sy uiteindelik beantwoord met “Lees self om uit te vind”.
Al wat só ‘n oraanbod vir my sê is dat die resensent nie die vaagste benul had hoe om haar los te wikkel uit die opstapeling van verhaalinligting waarin sy haar teen die einde bevind het nie, en toe laat knal sy die vrae.
Dit sou meer vanpas gewees het om teen die einde haar aanvangsopmerkings oor die plaasroman op te volg en Dwaalpoort binne Strachan se oeuvre te plaas en evalueer.
***
In die dae van my jongelingskap was PG du Plessis ‘n ruk lank my redakteur. Meeste redakteurs het ‘n klompie dinge waarin hulle vas glo, en een van Du Plessis s’n was die opvatting dat mens net ‘n berig met ‘n retoriese vraag kan begin as jy absoluut seker is dat daardie vraag jou nie in die watsenaam gaan kom byt nie.
“Is daar enigiemand in Suid-Afrika wat boeke mooier uitgee as Protea?” vra Jan-Jan Joubert in Beeld ten aanvang van sy resensie van D.J. Kotzé se Dapper kinders van Suid-Afrika.
Regs van hierdie vraag (op Beeld se webwerf) is ‘n afbeelding van die boek se omslag:
Jammer, Jan-Jan, ek het nie die res van jou resensie gelees nie.
***
‘n Sterk inleidingsparagraaf kan ‘n vaal resensie red. En ‘n swak ene sal daardie selfde vaal resensie nog verder laat kleur verloor.
Nikki Lordan steek in haar resensie van Pat Stamatélos se Vier begrafnisse en ‘n troue die intro weg in die tweede paragraaf.
Die gepubliseerde intro lui: “Ons ontmoet vir Dulcie-Anne Douglas met die intrapslag as opgesmukte huisvrou by die begrafnis van Hanna, oorlede eggenoot van Sparky.”
Die tweede paragraaf begin met die opmerking wat die resensie sommer lekker sou laat wegspring het: “Moenie dat die titel Vier begrafnisse en ‘n troue die omgekeerde van die film getitel Four weddings and a funeral jou gooi nie.”
Die intro wat sy gebruik het geen behoorlike oorgang na die tweede paragraaf nie – en ons kan ons seker gelukkig ag dat sy die tweede paragraaf nie begin het met “Van begrafnisse gepraat …” nie.
Elders vind mens weer ‘n paragraaf waarin twee gedagtes sonder logiese samehang saam gegroepeer word: “Wie pas dan waar in? vra dié leser, haastig op soek na ’n netjies uiteengesitte diagram voor in die boek wat alles mooi verduidelik. Vier begrafnisse en ’n troue is ’n deernisvolle verhaal wat op verfrissende wyse die kwessie van klasseverskille en ‘politieke korrektheid’ aanvat.”
Die subredakteur moet homself beter laat geld!
Kommentare