Uit ‘n joernalistieke oogpunt beskou is die resensies wat die afgelope week oor Deon Meyer se nuwe roman, Spoor, verskyn het ‘n interessante gevallestudie. Die drie Afrikaanse oggendkoerante het dit op dieselfde dag geplaas.
In Die Burger het Pieter J. Haasbroek (die bekende skrywer en ekonoom) die gebroke spanningslyn aangedui as leemte, maar die res van sy resensie is vol lof vir die noukeurige detail en feitlike juistheid, die aktualiteit en die manier waarop Meyer die aandag gryp en vashou.
In Volksblad sê Corli van der Merwe die egtheid en diepte van die karakters in Spoor is waar die roman se slaankrag lê, terwyl sy ook waardering het vir Meyer se aanknoping van die hedendaagse werklikheid en problematiek, en spesifiek vir die gehalte van Meyer se skryfwerk.
In Beeld meen Andries Gouws dat een van die roman se ontknopings nie geloofwaardig is nie (sonder om te sê watter een), en tog beoordeel hy die roman baie gunstig, met waardering vir die aktualiteit, die intelligente struktuur en ‘n groot avontuur vir die leser.
Die drie se aanpak verskil. Dit is duidelik dat aldrie die resensente Meyer se hele oeuvre gelees het; by Haasbroek kry mens die meeste getuienis dat die resensent weet hoe die ratwerk van die roman lyk en hoe goed Meyer dit regkry om dit te laat werk.
Van der Merwe neem meer die rol van bewonderende en gewillige leser en skryf sonder tierlantyntjies. Sy trap net op een plek klei, naamlik wanneer sy Meyer se skryfwerk vergelyk met dié van Michael Connelly, Jonathan Kellerman en James Paterson. Ek glo nie sy sal die vergelyking met Kellerman en Patterson kan verdedig nie – ek dink trouens dit is effens van ‘n belediging vir Meyer om met ‘n ploeteraar soos Patterson vergelyk te word. Meyer mik op ‘n veel intelligenter leesmark. Van der Merwe sou met veel meer vrug kon kyk na die manier waarop Lee Child en Meyer se werk dieselfde strategië volg.
Gouws se bespreking in Beeld is geskryf in ‘n soort André le Roux meets Elmore Leonard-styl. Inleidingsparagraaf vol bravade. Kort sinne. ‘n Implisiete gespreksgenoot met wie geargumenteer word. ‘n Afsluiting wat teruggryp na die inleidingsopmerking, en ‘n laaste paragraaf wat ‘n pastiche is van ou Deon se skryfwerk.
Ek besef dit is verg vaardigheid om só ‘n resensie te skryf (en selfs ‘n goeie humorsin), maar die styl irriteer my. Dit is asof die resensent uit die staanspoor besluit het hy gaan só skryf dat sy leser ‘n idee kry van hoe ou Deon dinge doen, en dit só oppervlakkig doen dat die resensie maklik sal lees en niemand bekommerd hoef te wees dat die leser se aandag sal dwaal na iets elders op die blad nie.
Die vraag is uiteraard nou wat die boekeredakteur se opdrag aan die resensent was, en of die resensent self besluit het hoe om die skryfwerk aan te pak. Indien dit laasgenoemde was, het Van der Merwe die veiligste uitweg gekies, Haasbroek die moeilikste, en Gouws die een wat meer oor die resensent se opvattings verklap as oor die boek self.
***
Ek het al voorheen geskryf oor hoe boekeredakteurs reageer wanneer ‘n boek duidelik van groot literêre belang is én groter eise aan die leser stel as wat normaalweg die geval is. Anastasia de Vries van Rapport het al in die verlede eienaardige besluite geneem (vgl. die keuse an resensent vir EKM Dido se jongste werk), maar mens kan geen fout vind met haar versoek aan Thys Human om Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper te resenseer nie.
Dit is selde dat mens ‘n resensent kry wat só op hoogte is met ‘n skrywer se werk, en boonop sy insig analiserend kan aanwend by ‘n bespreking van ‘n nuwe werk deur daardie skrywer. Dit maak dat hierdie resensie gemaklik en onderhoudend lees sonder om die geringste mate van òf swaartillendheid òf oppervlakkigeheid te toon.
Enigiemand wat hierdie resensie behoorlik lees, kry nie alleen ‘n besonder knap ontsluiting van die bundel se inhoud nie, maar ook ‘n besonderse begeleiding deur die vernaamste kenmerke van Van Niekerk se skrywerskap.
Om Human se slotopmerking te eggo: Dit wil waaragtig gedoen wees!
***
Tussen al die literêre resensies van die afgelope week deur was daar in Rapport Boeke ook iets anders om aan te smul: Herman Lategan se besprekings van Marita van der Vyver se Somerkos in Provence en Sonia Cabano se Vars vinnig lekker.
Lategan se resensies is nie juis krities ingestel nie. Sy trant is gemaklik, loslit en informatief. Hy is gevoelig vir die tekstuele inhoud, maar sy opmerkings oor die estetiese illustratiewe inhoud wys dat hy ‘n skerp oog het.
Dit is eers wanneer mens sy slotopmerkings oor die twee boeke vergelyk dat jy agterkom dat hy Van der Vyver se werk met ‘n bietjie meer geesdrif behandel.
Hoop om meer resensies uit sy pen te sien!
Comments