top of page
  • Uitmelkbos

DR. OPRAH, HONORIS CAUSA


Doktor Oprah? Dit val vreemd op die oor – en wat dit vreemder maak, is dat die verering van die sogenaamde “kletskoningin” van Amerikaanse TV juis van die Kovsies moet kom. Dié instansie het nogal ‘n interessante tradisie op hierdie gebied.

Verstaan mooi, ek beweer nie daar is bymotiewe met die graad vir Oprah nie. Ek het geen bewys nie, hoewel vererings met bymotiewe geen onbekende verskynsel is nie. Dit sluit alle vererings in. Maar dit is nogal opvallend juis hoeveel eredoktorsgrade toegeken word aan mense wat dik beursies het. Universiteite moet ook lewe …

Om net die Kovsies daaroor te hamer, sou onregverdig wees. ‘n Mens sou ‘n lysie kon maak, ook met ander name van instellings en ontvangers daarop. Boonop het ek ‘n sagte plekkie vir daardie “tweede alma mater” wat hierdie geswore Tukkie destyds in Bloemfontein “aangeneem” het. My raadspossie (laat ek maar bieg) het my na aan die hart gelê. Ek het dit nogal geniet in daardie akademiese “portale van mag” (destyds darem sonder enige vergoeding).

Oprah se D.Phil het ou herinneringe egter afgestof. Skielik onthou ek: in die UV se geskiedenis van doktorgrade honoris causa val ook name soos Louis Luyt en Barnie Human op. Ek beweer hoegenaamd nie dat hulle nie verdienstelike kandidate was nie, maar dat hulle geld had, val ook nie weg te redeneer nie.

Die Callie Humansentrum op die Kovsiekampus is die sprekende bewys van geldelike vermoë in Oom Barnie se geval. Oom Barnie was, terloops, ‘n goeie vriend wat ek hoog gerespekteer het vir sy diep spore in die motorhandel, kerk en gemeenskap. Hy het selfs in Margate ‘n kerk gebou ter herinnering aan sy ontslape seun, Callie. Hy het die universiteit op vele terreine gedien.

Ek wys dus nie vinger na hom of iemand anders nie – noem net die feite. En hier’s nog ‘n feit:

Die aanstaande dr. Oprah is natuurlik, by haar enorme internasionale publisiteitswaarde, ook bekend vir haar belangstelling in en oop hand vir die onderwys in Suid-Afrika. Sy het al stewig daarin belê. ‘n Mens weet nooit …

As iemand sou vra: “Hoekom dan vandag só sinies, ou Hennie?”, gaan haal ek my antwoord by ‘n eie ervaring in 1989. Ek en Tokkie het van die Publisiteitsvereniging van Bloemfontein “goue medaljes” (nie regtige goud nie) gekry vir gemeenskapsbetrokkenheid. Ondanks aanvanklike bedenkinge (is daar dalk bymotiewe?), het ek my dit laat welgeval. Elke mens het ‘n ego – kleiner of groter.

Die Publisiteitsvereniging was ‘n arm van die stadsraad, wat my koerant, Die Volksblad, kort daarna nodig gevind het om (soos meermale) oor die vingers te raps oor iets. Die burgemeester (laat hom maar naamloos bly!) vra ‘n onderhoud aan. In my eie kantoor kom sê hy vir my skaamteloos: “Ons het darem gedink jy sal ná die medalje minder skerp wees in jou kritiek”.

Dit was nie ‘n gemoedelike gesprek nie. Ek wou die medalje daar en dan teruggee. Hy is betraand uit my kantoor.

Hopelik bring dit die boodskap tuis dat ek my nie hoogheilig probeer hou nie. Ek staan as ‘t ware self agter die deur.

Verskeie naskrifte:

Die Kovsies het darem nie net vir rykes eredoktorsgrade gegee nie. Een van sy vreemdes was vir ‘n “vrou en moeder”, mev. Nellie Swart, eggenote van die eerste Staatspresident, C.R.

Die universiteit het ook vir my voorganger, Bart Zaaiman, ‘n eredoktorsgraad gegee – maar daarmee kon darem nie bymotiewe gewees het nie. Oom Bart was toe nie meer in die posisie om Die Volksblad se nuusdekking en kommentaar te beïnvloed nie.

Die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein het vir my baie ryk (en ook hoog gerespekteerde) vriend Boet Troskie ook ‘n eredoktorsgraad gegee. Dit sou onregverdig wees teenoor die Kovsies as ek daardie feit nie in hierdie konteks vermeld nie.

Die aankondiging van ‘n eredoktorsgraad op Twitter moet ‘n wêreld-eerste wees. Hoekom klink dit dan nou vir my só onakademies? Maar, natuurlik, Oprah twitter ook.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page