HvD in 1962 – die jaar toe hy kennis gemaak het met Romeins-Hollandse Reg … en die kleurryke prof. Nico van der Merwe. Hier voer hy ienk Koornhof van Kollegetehuis die pil. Die toeskouer is Piet Henning, ook ‘n regstudent.
Dit is nogal verrassend hoe een enkele woord ‘n gesprek, of ‘n grapsessie, of veral die onthou-jy-nogs van ou vriende se afstof van gedeelde herinneringe in ‘n onverwagte koers kan stuur. Een sleutelwoord is al wat nodig is om ‘n hele negosiekis assosiasies oop te sluit, en ‘n stroom gedagtes los te laat wat soos voëltjies (bedrywige withelm-laksmanne?) van tak tot tak wip.
Die verband sal mettertyd duideliker word, hoop ek, maar om die leser nie langer aan die raai te hou waarheen hierdie gryse blog-skrywer vandag op pad is nie, deel ek graag mee dat gister, eergister se blog oor kerkklokke my skielik laat onthou het van 1962 se derdejaar-regteklas aan Tukkies.
Die uwe was toe wel nie meer in sy derde jaar op die kampus nie – wel al in jaar nommer vyf, tot die goed verbloemde ongeduld van Pa en Ma Malan wat die rekeninge moes optel en van Die Volksblad in Bloemfonrein (minder goed verbloem) oor die beurshouer wat eenvoudig te verknog is aan sy kampus om sy beursverpligtinge te begin nakom. Van die derdejaar-regteklas kan ek egter met ‘n sekere gesag skryf, omdat dit is waar ek my in ‘n skielike wending in studierigting in 1962 bevind het.
Noem dit maar ‘n poging tot akademiese rehabilitasie na ‘n jaar waarin die uitgee van die studentekoerant Die Perdeby voorkeur geniet het bo die minimum-eise van nagraadse studie in die sielkunde, maar toe die akademiese jaar 1962 aanbreek, staan ek o.m. ingeskryf vir Romeins-Hollandse Reg III. (Ook Romeinse Reg, ens).
Die klas was in die oostelike hoek van die waardige Ou Letteregebou met eminente leermeesters soos prof. Nico van der Merwe, ‘n briljante regsbrein met ‘n silwer tong, en die minder flambojante Pierre Olivier wat as appèlregter in Bloemfontein geëindig het. Prof. Nico se forté was delikte en adv. Pierre syne kontrakte.
Nico, seun van die Nico van der Merwe wat bestem was vir groot dinge in die politiek, maar vroeg oorlede is, was ‘n skaretrekker soos min. Sy klas was die enigste in my vyf jaar op die kampus wat ek vir geen geld sou mis nie. Ook die ander klasmaats het moeite gedoen om teenwoordig te wees om die spitsvondige, selfversekerede jong professor in aksie te hoor. Sy lesing oor seduksie was onoortreflik. Ons het aan sy lippe gehang as hy so op sy bors slaan en deklameer: “Laat die hof sê wat hy wil. Maar wat sê ek, Nico van der Merwe? Ek, Nico van der Merwe, sê so en ek, Nico van der Merwe, is reg!”
Ek meen hy was 29 toe hy hoogleraar geword het, maar sy loopbaan by U.P. is ongelukkig kortgeknip oor ‘n insident wat in ‘n prominente berig bo-aan Die Transvaler (destyds die enigste Afrikaanse oggendkoerant in die noorde) se voorblad gerapporteer is, en waarin – as ek reg onthou – prof. Nico se blonde buurvrou ook die een of ander kritieke betrokkenheid had.
Ek kom later terug by prof. Nico – ‘n man van so ‘n stoffasie vat en los jy nie in die bestek van twee paragrawe nie! Maar eers iets oor die klasmaats.
Een was Louis Harms, die einste wat Jacob Zuma (en regter Nicholson) se liggies nou die dag in die Appèlhof so vinnig laat verdof het. Hy was toe al ‘n slim seun, waarskynlik die numero uno (ja kyk hoe onthou ek my Latyn!) in die klas. Hy het links voor gesit en tot ons ander se irritasie al die antwoorde op al die vrae geken. Veral oor die skuldbeginsel in die deliktereg was hy in ‘n ander liga as party ouens wie se name ek nie nou sal noem nie.
Ook in die klas was Meyer Kahn, wat grootbaas van S. A. Brouerye geword het, ‘n ere-professor en die regrukker van die S.A. Polisie in ‘n stadium toe die poging rot regruk ‘n sterk man moet laat sidder het . Sy punte was nie op dieselfde vlak as dié van Louis Harms nie. Vir hom het prof. Nico een keer op ‘n toetsvraestel gekryf: “Mooi so mnr. Kahn, as jy so aanhou. Sal jy net-net dop.”
Dan was daar “Killer” Botha wat prokureur in Johannesburg geword het en jare gelede in vreemde omstandighede vermoor in sy woonstel in Nothcliff gevind is. Killer het afgemete gepraat. Op ‘n dag verras prof. Nico hom met die volgende vraag: “Killer, as ek in die straat afloop en en ek klap iemand onderstebo, wat is dit?” Killer: “A-a-a-nra-a-anding, pro-o-fes-sor.” Prof. Nico: “Nee, Killer, as jy hom klap, is dit aanranding. As ek hom klap, is dit moord, moord, moord!”
Daar was ook dr. Cor du Preez, mediese dokter en beroepskandidaat vir hoeveel partye in hoeveel tussenverkiesings. Vir hom was die regte veel komplekser as die geneeskunde, het hy bely. ‘n Mens se liggaam is soos ‘n motorenjin. As jy die enjinkap optel, sien jy sommer hierdie draad is hiervoor en daardie draad daarvoor. Maar in die regte? Daar loop die drade sommer deurmekaar.
Ek onthou hoe die senuweeagtige Dok die dag in erfreg ‘n intestate boedel op die swartbord moes gaan beredder. Uiteindelik het almal wat reeds dood was, ‘n kado-tjie uit die boedel gekry. Die nog lewendes is voor die voet onterf. Prof. Nico het op en af gespring. “Dok, jy’s tog ‘n dokter, weet jy dan nie hoe lyk ‘n lyk nie?”
Nou die kerkklok-assosiasie – met die nodige spyt dat dit so laat in hierdie skrywe eers aan die beurt kom. Die storie is dat ons ‘n keer in ‘n toets die vraag gekry het: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master.”
Dok Cor kry nie daardie draad onder sy enjinkap nie, en probeer toe sy dilemma agter ‘n speelse kommentaartjie versteek: “Ai, prof, ek het nooit gedink ‘n Engelse kerkie sou my klokke so laat lui nie.”
“Ja, dok,” antwoord prof. Nico: “En toe is dit nie die geklink van huweliksklokke nie, maar die kluitklap op die kis!” Kishou!
Kommentarer