top of page
  • Uitmelkbos

DIT KOM VAN VER AF


Nigeriese jollofrys en Poolse mazurek

Toe ons instap in die eetsaal, klink ‘n geroffel op dat jy vir ‘n oomblik dink jy is iewers diep in die bos. Wat jy in Sabiepark saans op die oostewindjie van die Protea Hotel Krugerhek se kant af hoor, is maar eina teen die vier manne in hul Afrika-tunieke se energieke aanslag op die tromme.

Maar jy’s nie in die bos nie, wel in die uiters stedelike Kaapstadse Konferensiesentrum, en boonop in die Dakterras met sy panoramiese uitsig oor die stad en Tafelberg. Die okkasie is die tradisionele middagete ná Naspers se jaarvergadering, en hierdie ou maatskappy van my sit vandag sy “ander been” se voet voor in die keuse van kos, musiek en vermaak.

Dit raak ekoties, boeta, met onder meer ‘n Afrika-weergawe van die walstoneel uit Tsjaikofski se Swanemeer deur vier vlinderagtige ballerinatjies in kleurryke kostuums – die enetjie ‘n natuurlike swart swaantjie, ‘n ander enetjie se netjiese lyfie hier en daar met ‘n bruin lyfverfie geraps. Tweetjies trippeltrap die Afrika-stappies in ‘n spierwitte vel.

Die nuwe generasie “executives” het hul hiper-byderwetse Blackberry’s uit en vat net uit elke hoek so sit-sit korrel om uit die beste hoek foto’s van die fyn meisiekindertjies op die punt van hul toontjies te neem.

Die hoofgereg is ook ex Africa, en jy moet saamstem, as jy jou Latyn so ietwat kan “opmieks”: ex Africa semper aliquid ‘lekka’. Die Nigeriese jollofrys – ‘n geurige rysgereg – met goed gekruide hoenderboudjies en gebraaide plantain (piesang) smaak werklik vorentoe.

Nie dat daar fout met die Russiese sop was nie! Hierdie ou dag die Russe eet net koolsop (waarvan ek, nog in die skaars tyd van Joeri Gorbatsjof, genoeg in Moskou gekry het), maar hierdie Russiese borsjt (heilsame, warm beetsop) is van daardie koolsop (met blare en al) baie verlangse familie, indien enigsins.

Die nagereg is Pools – ‘n plat koek met ‘n bolaag van marsepein, ingelegde vrugte en neute. Poolse mazurek, roep hulle dit. Nou ja, van soetgoed bly ek deesdae maar ver weg weens die impak op die skaal. Maar wie sê nou nee vir ‘n verleidelike stukkie Poolse “mazurek” (darem kleinerig), veral as jy al ‘n glasie of drie van die beste Suid-Afrikaanse sauvignon blanc agter die blad het.

Maar jy kan mos nie vir die wyn neus optrek nie – jy moet darem trots Suid-Afrikaans ook wees of hoe?

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page