Dit sou onbehoorlik wees om in hierdie tye tsunami’s sommer so as vergelyking te gebruik, maar dit is omtrent wat die Woordfees pas vir Stellenbosch was. Dit voel soos ‘n eeu gelede dat ek laas geskryf het, en boonop voel die ou issues, wel, óúd.
Intussen het Joan Hambidge se resensie van Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof stil-stil op Volksblad se webblad verskyn nadat dit die vorige week in die koerant se papier-uitgawe was.
Dit is ‘n sterk resensie, ofskoon effe onaf. As dit die enigste resensie was wat van hierdie bundel verskyn het, sou nòg die digter nòg die uitgewer kon kla. Tog lees mens dit met ‘n vreemde gevoel dat Hambidge, as sy die kans kon kry, die resensie aansienlik sou kon uitbrei.
Om die waarheid te sê, as mens kyk na die uiteenlopende dinge wat in die voorlaaste paragraaf net genoem word, en na die oorgang van die voorlaaste paragraaf na die laaste paragraaf, dan begin mens die spesmaas kry dat hierdie resensie aanvanklik baie langer was as dít wat geplaas is, en dat dit by Volksblad geredigeer is om in te pas.
As resensie smeek dit om vergelyk te word – nie met die resensies oor dieselfde bundel wat reeds verskyn het nie, maar met een deur Hambidge self wat Sondag in Rapport verskyn het van T.T. Cloete se Onversadig.
Sy begin die Cloete-resensie met woorde wat vergelyk kan word met ‘n groot dramatiese gebaar op die verhoog: “In hierdie groot worp van ‘n bundel wat Onversadig heet …” Baie majeur teenoor die mineur van “DIE BEGINSEL VAN STOF deur Breytenbach is ’n ryk geskakeerde digbundel …”
En tog, wanneer mens albei resensies herlees, is dit duidelik dat die Breytenbach-bundel veel groter eise aan haar as resensent gestel het as bundels wat sy in die onlangse verlede geresenseer het. Al voel mens daar is getorring aan die resensie.
Die rede hiervoor lê in die manier waarop sy vir my gevoel haar eie styl naboots in die Cloete-bespreking. Al asof sy ‘n lysie het van dinge wat genoem moet word wanneer sy digbundels resenseer: intertekstuele gesprekke, gedigte oor digkuns, intratekstuele verwysings, temas, styl, rykdom van verwysings …
Een paragraaf val egter dadelik op: “Ek hoor in die lykdigte die verdriet van ‘n Totius, ek sien die beheer van ‘n Opperman.” Dit is hiér waar ‘n mens besef dat Hambidge ook in ‘n ander toon kan skryf, en dat sy, as sy wou, verblindend goeie resensies sou kon lewer, deur meer tyd aan formulering te bestee.
Ná daardie sin word die Cloete-resensie ‘n reeks opmerkings wat klink asof hulle vir ‘n flapteks geskryf is, en wat uitloop op dié slotsin: “’n Digter met epigone en navolgers is groot.”
Helaas, Rod McKuen sou daarmee kon saamstem. Eliot ook.
***
Tydens een van die sessies wat ek by die Woordfees bygewoon het, het ‘n spreker opgemerk dat dit baie interessant is dat die een soort boek waarvan die verkope maar altyd sukkel, naamlik digbundels, ook die soort boek is waaroor die meeste in koerante se boekeblaaie geskryf word.
‘n Mens sou kon byvoeg dat dit nog moontlik is dat ‘n prosa-debuut geïgnoreer word, maar wanneer ‘n digter debuteer, dan staan die resensente omtrent tou.
Andries Samuel voel seker na dese soos ‘n gelekte toffie. Sy debuutbundel, Wanpraktyk het by die Woordfees onder die kollig gekom, daar was ‘n onderhoud met hom op RSG, en die bundel het nou al twee besonder gunstige resensies ontvang.
Marthinus Beukes het verlede week baie waarderend daaroor geskryf in Rapport, en vandeesweek het Louise Viljoen dit op haar onverbeterlike manier in Die Burger behandel.
Wat ek van Beukes se resensie gehou het, is dat hy sommer met die intrapslag geweier het om in sy resensie Samuel se bloedlyn as rigsnoer vir die beoordeling van die bundel te neem.
Viljoen omseil dié probleem op ‘n ander manier. Sy verwys na Samuel se moeder, sê pront wáár die verwantskappe in hul gedigte lê, en stuur die problematiek na sy peetjie met die opmerking dat Samuel genoeg van ‘n eie identiteit as digter het om ‘n mens met gretige verwagting te laat uitsien na sy volgende werk.
Ek vermoed dat dit vir Samuel ‘n verligting sal wees as hierdie saak as afgehandel beskou word. Niemand het, alles in ag genome, probeer vasstel of sy vader se musiektalente ‘n invloed gehad op die metrum in die gedigte nie.
***
Dis ‘n goeie vraag of heruitgawes resensies verdien. As die boek baie lank onverkrygbaar was, sekerlik, en as die skrywer só sterk aan die vergetelheid ontruk word as Marthinus Versfeld deur die heruitgawes van Oor gode en afgode en Our Selves, dan verdien dit ‘n behoorlike kyk.
Demond Painter doen dit dan ook vandeesweek in Die Burger. Dis ‘n ondankbare taak wat hy hier moet verrig. Hoe maak jy iemand aantreklik vir ‘n nuwe geslag lesers wat nooit die voorreg gehad het om Versfeld self te ontmoet nie?
Painter se resensie is oortuigend, substansieel en informatief. Het Painter egter vir Versfeld geken soos byvoorbeeld Petra Grütter destyds hom geken het, sou hy waarskynlik ‘n losser, minder formele bespreking aangebied het as wat hy nou gedoen het.
Hy sou waarskynlik veel meer aangehaal het. Ek mis in sy resensie voorbeelde van Versfeld se wonderlike stelswyses. Painter moes dit besef het toe hy die volgende geskryf het: “Hy demonstreer al skrywende hoe mens jouself besinnend, kreatief en eties in die wêreld kan posisioneer.”
Hierdie gedagte het my dadelik boekrak toe laat gaan om net ‘n bietjie te proe-lees. Kyk wat Versfeld al in die sestigs gesê het (en wat moes gespook het by diegene wat ná Februarie 1990 moes sing vir hul sopper): “‘n Volk of ras wat nie met ‘n ander volk of ras kan of wil gesels nie, kan ook nie met God gesels nie.”
Terug by Desmond Painter: Op ‘n manier word ‘n resensent in ‘n resensie soos hierdie ‘n verkoopsman. Hy moet nuwe kopers vind vir ‘n soort skryf- en dinkwerk wat nie vandag meer in groot aanvraag is nie, maar verdien om te wees uitsluitend op grond van die intrinsieke waarde daarvan.
In só ‘n geval, waar die produk behoorlik gebek is, is dit beter om minder van die verkoopsman te hoor en meer van die budgie.
***
Christine Barkhuizen le Roux kry in Volksblad ‘n louerige resensie van Cilliers van den Berg vir haar kortverhaalbundel Wat die oog gesien het.
Dit is ‘n resensie waarby die outeur baie kan baat in haar groeiproses as skrywer, sou mens vermoed. Van den Berg se kritiek is reguit en deurdag – mens kan werklik nie vlooie soek in sy argumentasie nie.
Dit raak net problematies as mens die bundel reeds gelees het – wat ek in elke beskikbare oomblik tydens die Woordfees gedoen het. Van den Berg benader die bundel as ‘n versameling skryfwerk wat veronderstel is om hoge letterkunde te wees. Sou dít jou uitgangspunt wees, sal die bundel jou teleurstel.
Maar ek het dit geniet omdat sy ‘n storie lekker kan uitpak.
Daarom dat Van den Berg se slotparagraaf my so verskriklik geïrriteer het. Hy erken daarin dat die bundel maklik lees en dat daar baie winste in die bundel is. Sulke ja-maar-paragrawe laat mens net wonder of die resensent begin twyfel in sy argumentasie, en ‘n paar paaigeluide maak in die rigting van dié wat nie met hom saamstem nie.
Comments