top of page
  • Uitmelkbos

DIEREPLESIERE


Die radioprgram Dieremaniere was op ‘n tyd een van my gunstelinge met sy boeiende stories oor honde en katte … selfs oor perde, mak hasies en witrotte. Die program het ongelukkig nie sy suksesresep behou nie.

Praat iemand van dieremaniere, dink hy gewoonlik aan troeteldiere. Wilde diere het ook maar hul gewoontetjies.

‘n Vlakvark wat hom blykbaar papnat skrik, het ek in Augustus 2011 die eerste keer gesien. Vier van die dierasies het op Tarlehoet se werf rondgestaan. Skielik stap ‘n hiëna uit die bos.

Die ou die naaste aan haar, het eenvoudig sy kraantjie oopgedraai. Dit was soos ‘n bodemlose tenk. Ek sou graag ‘n kenner wou vra of die groot nommer een en die verskyning van die roofdier (dalk kwylend van lus vir ‘n vlakvarkboudjie) verwant kon wees, of maar net ‘n sameloop van omstandighede.

By die voerplek – Sabiepark begin Juliemaande droog raak en die eerste somerreën is nog ver – het ek eienaardige koedoegedrag waargeneem.

Koedoes het my en Tokkie natuurlik al vantevore uitermate verras met hul voorliefde vir die saadjies in die voëls se kosbakke, en hul slim-skuldige plundertoggies as hulle, ietwat ooroptimisties, dink jy sien hulle nie. Hierdie keer was die verrassing iets in ‘n teenoorgestelde rigting: ‘n vreemde onderdanigheid teenoor, van alle dinge, sebras.

Die sebras was lustig aan die bale voer aan die weglê toe ons daar verbystap piekniekplek toe. Die koedoes het, trippelend van haastigheid, op ‘n afstand staan en wag. Was dit wel onderdanigheid of respek? Dalk ‘n ingebore hoflikheid: “Eet julle gerus eers klaar”. Sou dit dui op ‘n stem vir segregasie of selektiewe assosiasie?

‘n Bosbok-ram is voorheen deur ons uitgevang dat hy ons watergat se waterlelie (gekoop by Skukuza se gawe kwekery) geheel opgevreet het. Hierdie vakansie het een ons verras met sy manier van water drink. Hy is eers na die voëls se badjie toe, wat nie vreemd is nie. Koedoes, sebras, wildebeeste, rooibokke, vlakvarke en wat nog het dieselfde voorliefde. Toe dié leeg is, slenter hy aan na die watergat – steeds doodnormaal.

Maar toe die watervlak lag is, sak hy knielend op sy voorpote om by te kom, kompleet soos ‘n vlakvark wat wei. Sou dit gewone bosbokgedrag wees?

‘n Seekoeibul het ons in die Nyamundwadam naby die Phabenihek verras met sy stamina as minnaar. Tokkie dag eers hy’s asmaties weens sy hortende asemhaling (maar toemaar, sy het al voorheen, tot groot vermaak van die ander in die motor, ‘n olifant met ‘n “seer been” identifiseer).

Minute het verbygetik. Ons kom eers agter dié dieremaniere is eintlik diereplesiere toe die koei se neesvleuels, snakkend na asem, bo die wateroppervlak verskyn. Dis egter maar momenteel en kortstondig. Dan raak sy weer ondergedompel – soos by ‘n groot doop.

Die operasie word die bron van bespiegeling. Sou dit gemaklik wees só onder die water? Wie verdien eintlik die prys vir stamina: die bul of die koei? Haar posisie lyk vir een van die toeskouers veeleisender as onderwater-hokkie!

Een oggend het die visarende by Lake Panic begin roep soos ons nog nie gehoor het nie. Hul roep en roep hul harte uit. Die middag duur dit voort … en die volgende oggend. Sou dit ‘n melodie van die liefde kon wees? Of sommer net speelse lughartigheid oor die lekker sonskyn ná ‘n paar buitengewoon triestige dae?

By die nimlike Lake Panic het ‘n visarend ons ‘n tweede keer laat skeef opkyk met ‘n skynbare afknouerigheid jeens ‘n veel kleiner lid van die veervolk.

‘n Reusevisvanger duik vir hom ‘n vissie uit die water en gaan sit op ‘n boomstomp vir sy omega-maal. Terwyl hy die prooi oudergewoonte voorberei deur hom aanhoudend teen die stomp te kap, swiep ‘n visarend op hom neer, kloue gesprei om die vissie te gryp. Die visvanger was net ‘n oomblik die toonbeeld van verslaenheid. Toe skiet hy weg, vissie en al. Die visarend moes die aftog blaas.

By die Orpendam het ons ‘n keer gesien hoe ‘n visarend ‘n bloureier van sy middagete beroof. Toe het ek al gedink: “Ag sies man, dit betaam nie só ‘n vorstelike voël nie. Vang jou eie kos, demmit!”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page