top of page
  • Chomsetussenbetragtings

Diep oomblikke...

Ten spyte daarvan dat ek gewoonlik maar lawwe goed op my blog met julle deel is ek eintlik heel "diep", of soos my familie my altyd spot, ek "moet altyd tot op die been sny". Het 'n murse "diep" oomblik belewe, Saterdagmiddag. Eers bietjie agtergrond. Ek het my knaap van 1993 af alleen grootgeslaan. Synde 'n buitensporig gewilde kind was ons huis altyd vol jillende, hoppende klein seuntjies. (Dit het ook gehelp dat ons die enigste swembad in die omgewing gehad het, en hy 'n ma gehad het wat tussen haar studies en 2 jobs nie veel gebodder kon wees nie). Vir so 4 jaar het daar nog 'n semi-pleegkind, Daniel, ook nog by ons gebly.

As ek vinnig moes winkel toe, het ek gevolglik gewoonlik 'n hele spannetjie gehad om in toom te hou (kon hulle nie alleen by die huis los nie - hulle was 'n span kakbakkers van formaat). Nie juis suksesvol gewees nie, maar ek's nie juis die stresserige tipe oor sulke goed nie. Nooit groot probleme gehad nie.

Nietemin. Knaap word nou volgende week 21, en hy en my ander aanloopkind (nie Daniel nie, ander storie) deel 'n woonstel, ook op ons dorp. Saterdagmiddag loop ek hulle twee in Fruit & Veg raak. Chat so bietjie (ons kom ongelooflik goed oor die weg), en ek sien 2 klein blonde bliksempies wat besig is om daai hele winkel op horings te neem - jy sien net mango's spat soos hulle tweekies soos twee propperse Tasmanian Devils deur die winkel hol, skreeu en mekaar jaag. (Geen ma in sig nie, maar sy't seker net gemaak of hulle nie hare is nie - ek't dit ook gedoen). Sê ek vir Knaap: "Sien jy daai twee? Ek sien nou vir jou en Daniel en Francois en Wessel en daai ander twee bliksempies wat se name ek nou vergeet... jis julle kon darem maar 'n winkel opfok!" Hy lag verleërig, trek weg met sy eie storie; "Mamma sal nie glo nie, ek het net hierdie week daaraan gedink. Ek was in ons sitkamer, toe hoor ek hierdie rumoer, en toe ek gaan kyk toe is daar hierdie klomp klein laities wat vir mekaar balskop in die straat. Mens kon sommer sien hulle geniet hulleself verskriklik." En toe die bummer wat my amper in snot en trane gehad het in die winkel. "Mamma, ek staan nog so en kyk vir hulle, toe loop daar 'n traan sommer so vanself uit my een oog uit en oor my wang!" My hart wil breek vir my kind se heimwee, ek reken toe vir hom "ai Seunie... jy het darem eintlik 'n wonderlike kinderlewe gehad, weet jy?" Sy antwoord? "Ja Mamma, ek het... rerig... maar dit voel nou vir my dit was baie te kort!"

0 views

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte gemaak is, dink ek dis tot 'n groot mate op ons van toepassing. Sal

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's Pappa?" Sy sug, vat haar dogter om haar maer skouers en lei haa

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie vergeet het nie, en so nou en dan 'n boodskappie gestuur het (

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page